Honderde haasbekkies regoor Kempton Park het Woensdag vir die eerste keer die grootskool aangedurf.
Honderd-en-sestig van dié Graad Eens was by Laerskool Birchleigh in Olienhoutlaan te sien waar hulle met groot opgewondenheid die skoolgronde betree het.
Volgens skoolhoof Herman Stebbing het die skool vanjaar 355 aansoeke vir Graad Een ontvang, maar kon slegs 160 akkommodeer.
“Ons het drie Afrikaanse klasse en drie Engelse klasse,” het Stebbing aan Express in sy kantoor vertel. Buite was personeel en voogde besig om die woelige leerders in hul regte klasse te kry.
“Ons het baie oulike personeel wat hard werk en toegewyd is,” het hy bygevoeg.
Een leerder wat nie skrikkerig vir die eerste dag van skool was nie, was Shantel Mokwena (6).
“Ek is bang vir niks nie,” het sy laat hoor. Haar ouers Phullia en Kino het gebars van trots op hul dogter wat ’n dokter wil word wanneer sy groot is.
Klein Phoebe Kinnear (6) en Vukana Chauke (6) is sommer al klaar maats.
“Dit is lekker om nuwe maatjies te maak en goed te leer,” het Kinnear gesê. Sy wil eendag ’n beroemde sanger word, en Chauke ’n vlieënier.
Graad twee leerder Excellent Mudau (8) was in sy noppies dat kleinboet Shudufhadzo (6) nou ook in sy skool is. Excellent het beloof om mooi na hom te kyk.
