Local newsNews

Kempies sluit skool se toilette weens ongerymdhede

Kleedkamers word in die oggend sodra die skooldag begin (8vm) gesluit en is net voor skool, tydens pouses en na skool oop.

In ’n poging om sekere ongerymdhede in die kleedkamers by Hoërskool Kempton Park uit te skakel, word alle kleedkamers van die begin van die jaar af gedurende klastyd gesluit.

“Dit gaan daaroor om voorsorg te tref,” het die skoolhoof, Francois de Kock, gesê.

“Dit gaan nie net oor leerlinge wat in die badkamers rook nie, maar ook oor leerlinge wat onnodig rondloop en laat is vir klas. Daar is ook leerlinge, seuns en meisies, wat mekaar in die badkamers boelie,” het hy bygevoeg.

Kleedkamers word in die oggend sodra die skooldag begin (8vm) gesluit en is net voor skool, tydens pouses en na skool oop.

De Kock het gesê leerders word wel toegelaat om die kleedkamers tydens klastyd te besoek indien nodig.

“Sekere personeellede, wie se klasse naby die betrokke kleedkamers is, dra sleutels vir dié betrokke kleedkamers en leerders mag dit gaan haal. Sodoende kan die personeel beheer uitoefen oor die beweging na en van die kleedkamers.

’n Inwoner, Mark Janse van Rensburg, het sy kommer oor die besluit uitgespreek.

Hy voel dit maak inbreuk op leerders se menseregte en moet onmiddellik aandag geniet.

“Waarom word alle leerders daarvan weerhou om tydens klastyd die badkamers te gebruik as gevolg van die rookprobleem?” wou hy weet.

De Kock het gesê dié reëling val binne die bepaling van alle menseregte, asook binne die riglyne van die skolewet.

“Die kleedkamers word gesluit om bepaalde ongerymdhede te verhoed. Slegs twee ouers het by my navraag gedoen oor die sluit van die kleedkamers. Die Kempie-leerders ervaar die reëling baie positief.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button