KYK: Allen Park se inwoners kry eie gimnasium
Allen Park-inwoners het nou geen verskoning om nie fiks te bly nie.
Allen Park se inwoners kan nou met gemak Desember-vetjies afskud, aangesien dié aftreeoord in Cactuslaan nou met sy eie gimnasium spog.Volgens Sarie Scheepers, leefstylorganiseerder van die oord, was Allen Park Gym die initiatief van die stad se departement van sosiale ontwikkeling. Hulle het vir drie trapmeule, vier oefenfietse en vier oefentrappe gesorg.
“Ons moedig al ons inwoners aan om aan te sluit, want gesondheid is belangrik op hierdie ouderdom,” het Scheepers aan Express vertel, terwyl opgewonde inwoners ’n toer van die fasiliteit ontvang het. Inwoners kan op Maandae en Donderdae die gim besoek teen geen koste nie.
Inwoner Annatjie van der Westhuizen (72) is heel in haar noppies oor die nuwe oefenplek.
“Oefen hou jou aan die gang, anders word jy lui en hopeloos.”
Gustav Swarts (64) glo weer dit is ’n goeie altertnatief vir inwoners wat weens veiligheidsredes nie buite die oord kan gaan stap nie.
“En dit is goed om te oefen. ’n Gesonde hart sorg vir ’n gesonde lewe.”

