Die burgerregte organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 10 Januarie besoek by Laerskool Kruinsig afgelê.
Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.
“AfriForum wil met sy teenboeliepraatjies saam met leerders, onderwysers en ouers werk om afknouery in skole stop te sit en alle betrokke partye met die kennis toe te rus om dit te doen,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“Ons gee ook aan elke onderwyser ’n teenboeliegids wat raad aan hulle bied oor hoe om boelies te hanteer, asook ’n paar aktiwiteite wat hulle met die kinders kan doen wat as bewusmaking dien.”
Johan Kruger, hoof van Kruinsig, sê: “By Kruinies is ons slagspreuk ‘glo en oorwin’. Ons wil graag hê dat elke leerder tot sy volle potensiaal onwikkel om hulself teen boelies te kan beskerm – daarom is AfriForum se teenboelieveldtog só broodnodig.”
