NewsSchools

Impala-vegvliegtuig by Impies weer terug in al sy glorie

Die restourasie is deur die gratis diens van verskeie weldoeners moontlik gemaak.

Na 25 jaar pronk Laerskool Impala se Impala-vegvliegtuig nommer 494 weer in sy eertydse glorie.

Dié vliegtuig is gedurende die Desember-vakansie ’n nuwe baadjie aangetrek nadat die son, wind en weer hul tol geëis het.

Lees ook:

Impala se vliegtuie spog met ‘n nuwe baadjie

Borde bring hulde aan Impies se ryk geskiedenis

Na deeglike navorsing en met die toestemming van die lugmag, wat die eienaar van die vliegtuig is, is daar laat laasjaar met restourasie begin en pryk dit nou in die kleure van die Silwer Valke.

Die vliegtuig was deel van die Suid-Afrikaanse Lugmag se kunsvliegspan, die Silwer Valke, wat die Impala-vegvliegtuig vir vliegtoertjies tydens lugskoue en seremoniële geleenthede gebruik het. Impala-vegvliegtuie is in 1966 in gebruik geneem.

Willem Jacobs, hoof van Laerskool Impala, by die SkyJack terwyl restourasie aan die gang was.

’n Groot aantal van dié vegvliegtuie het teen 1994 lank in die tand geraak en is om dié rede van diens onttrek na bykans 30 jaar se getroue diens in die lugmag. Die laaste Impala-vliegtuie is in 2005 van diens onttrek.

Impala nommer 494 is in 1994 deur die destydse SA Lugmag aan die skool beskikbaar gestel.

Die restourasie is deur die gratis diens van verskeie weldoeners moontlik gemaak. Martin Bester, voorsitter van die skool se beheerliggaam, is in die lugvaartbedryf werksaam en het ’n groot rol gespeel om die regte span kundige tegnici bymekaar te kry vir die restourasie.

Die skool se opregte dank gaan aan Eugene Venter van Lecin Spraypainting Services, Frans Kimberger van Sky Jacks en Tertius de Wit wat die werk gedoen het.

So het die Impala gelyk voordat dit sy nuwe baadjie gekry het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button