Hou jy van lees, sluit aan by Leeskring
'n Wye verskeidenheid van onderwerpe en genres word gedek.
Met die nuwe jaar is daar altyd mense wat besluit om van nou af meer te lees.
“Kom sluit aan by die Leeskring en geniet die lewendige besprekings,” sê Ellen Harmse, voorsitter van die plaaslike leeskring.
Dié kring bestaan reeds meer as 40 jaar en het net minder as 30 lede.
“Die boeke word aan deelnemers uitgeleen en byeenkomste vind elke tweede Woensdagoggend van die maand in die ouditorium van Birchleigh-biblioteek plaas. Die datum van die volgende vergadering is 13 Februarie en die jaarfooi is R100,” het sy bygevoeg.
‘n Wye verskeidenheid van onderwerpe en genres word gedek. Die lys vir hierdie jaar lyk soos volg: Hanlie Retief se Byleveld, Bibi Slippers se Fotostaatmasjien, Riana Scheepers se Stormkind, Elsa Joubert se Die Reise van Isobel, Jacques Pauw se The President’s Keepers, SJ Naudé se Die Derde Spoel, Steven Robbins se Letters of Stone, JRR Tolkien se The Hobbit (Afrikaanse vertaling beskikbaar) en Deon Meyer se Koors.
Gespreksleiers berei hulself deeglik voor. Bibi Slippers van Via-faam In die bed met Bibi en bekende resensent besoek die Leeskring in Mei. Haar digbundel word bespreek.
Gaste sal welkom wees. Merk die datum sodat jy dit moontlik kan bywoon en nie mis nie.
Om meer uit te vind en om aan te sluit skakel Susan Wilsenach by 072 327 9063.
