Die City of Ekurhuleni se prysuidelingsfunksie was vanjaar ’n aangename verrassing vir Hoërskool Kempton Park.
Nie net is Engels- en inligtingstegnologie-onderwysers met die beste uitslae in die munisipale streek beloon nie, maar Kempies was ook die top akademiese skool. Dit is voorwaar ’n besondere prestasie as in ag geneem word dat daar nagenoeg 150 hoërskole in Ekurhuleni is.
Hierdie toekenning is bykomend tot die distrik se toekennings wat op 7 Februarie gemaak word.
Kempies het vanjaar ook weer by die Ekurhuleni-Noordprysuitdeling geskitter. Die skool is as die top sekondêre sportskool, Chanté Dickson as beste senior sportmeisie en Anika du Plessis as die naasbeste sportmeisie aangewys.
Beide Kempies se kultuurhoofleiers het ook met die louere weggestap. Wiehann Mienie is as beste kultuurseun aangewys en Dané Schulle as beste kultuurmeisie.

