Kom bid saam, Kempton Parkers
"Ons roep elke Christelike gemeente, dit is leraars en lidmate gelyk, mans en vroue, seuns en dogters, regoor die taal- en kleurspektrum, om te verenig in gebed."

Psalm 50:15 lees: “…roep my aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy moet My eer.”
“Ons as mens van vandag leef in ’n tydperk soos nog nooit vantevore nie. Regoor die wêreld gebeur dinge wat ons tot bekommernis stem en ons voel magteloos om iets daaromtrent te doen,” sê Ben Engelbrecht, gebedskoördineerder van die Evangelies Gereformeerde Kerk in Van Riebeeck Park.
“In ons eie metropool sien en ervaar ons die verval van die gemeenskap. Dit is dinge soos verhoogde gevalle van misdaad wat insluit korrupsie, dwelmhandel en -misbruik, die wettelose optrede van mense en sedelike verval.
“Mense raak kerklos en kerkloos. Ons sien hoe lidmaatgetalle kwyn en predikante/pastore moedeloos word. Veral onder die jeug en jong pare ondervind ons ’n neiging dat dit nie nodig is om kerk toe te gaan nie.
“In kort, ons is in ’n geestelike stryd gewikkel, die ‘oorlog’ tussen goed en kwaad, en ons het krygers nodig, manne en vroue wat bereid is om aan te meld vir die oorlog, wapendraers wat voluit die stryd op geestelike vlak sal voer, en dit op die een manier wat elkeen in staat is om te doen, en dit is gebed,” sê Engelbrecht.
Jakobus 5:16b lees: “Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag.”
“Op grond van hierdie skrifgedeelte roep ons bidders op om by ons aan te sluit in gebed. Ons roep elke Christelike gemeente, dit is leraars en lidmate gelyk, mans en vroue, seuns en dogters, regoor die taal- en kleurspektrum, om te verenig in gebed.
“Ons kom elke Saterdagoggend tussen 7vm en 8vm in die kerkgebou van die Evangelies Gereformeerde Kerk op die hoek van Drakensberg- en Tafelkopstrate in Van Riebeeck Park bymekaar. Die parkeeringang is op Drakensbergstraat.
Hier word gebid vir elke gemeente in ons stad. Ons bid ook vir ons regering, plaaslik en nasionaal. Ons bid teen misdaad, korrupsie, vir die jeug, vir die polisie, vir individue wat ons weet probleme ervaar, vir predikante, pastore, kerkrade, vir God se uitkoms oor die droogte – vir reën in die droogte geteisterde gebiede in ons land.
“Ja, ons bid vir alles en almal, maar veral vir ’n magtige herlewing, omdat ons glo dat dit net gebed tot en verontmoediging voor die Almagtige God is, wat die verandering kan bring.”
Vir meer besonderhede skakel ds Willie Olivier by 084 536 4578 of ouderling Ben Engelbrecht by 083 383 5185.
