Anika sit Afrika in skaakmat – ‘n tweede keer
Hierdie skaaktalent wou al baie ophou met dié spel, maar gelukkig het sy nie.
Skaakmat.
Oud-Kempie Anika du Plessis (18) is weer eens ’n Afrika-skaakkampioen. Dit nadat sy stof in haar teenstanders se oë geskop het tydens die African Junior Chess Championships in Uganda, wat vanaf 28 Desember 2018 tot 6 Januarie gehou was.
In 2018 was Du Plessis in Egipte aangewys as Women International Master, ’n titel wat slegs sowat 13 Suid-Afrikaanse vroue het.
“Ek wou so graag wen,” vertel die Noord-Wes Universiteit (NWU) eerstejaarstudent aan Express. Sy studeer tans biochemie en mikrobiologie.
“As ek nie gewen het nie, sou dit nie die moeite werd gewees het om tussen Kersfees en nuwejar nie by my familie te wees nie, aangesien dit my laaste jaar in die huis was.”
Dít is wat Du Plessis gemotiveerd gehou het tydens moeilike spelle.
“Een spel teen ’n o-12 speler van Botswana was veral moeilik, sy is baie goed. Nog ’n moeilike spel was teen ’n speler van Uganda, wat heeltyd ’n halfpunt voor was.”
Maar aanhouer wen. Du Plessis is nou uitgenooi om in Oktober aan die Wêreld Juniors in Nieu-Delhi, Indië, te gaan deelneem.
Hierdie hardwerkende skaaktalent sê dit het nog nie ingesink dat sy die beste o-20 vrouespeler in Afrika is nie.
“Ek het net in Suid-Afrika geland van Uganda toe moet ek alweer op ’n eerstejaarskamp gaan. Nou is ek besig met klasse, wat ’n nuwe uitdaging is.”
Du Plessis, wat in Minjonet Dameskoshuis is, het reeds by NWU se skaakspan aangesluit.
“Ek het nog nie volspoed begin oefen nie, maar sodra dinge by die klasse beter gaan, sal ek.”
Haar hoop is om eendag die Woman Grand Master-titel te verwerf, maar daarvoor sal sy nog twee soortgelyke kompetisies as die een in Uganda moet wen.
Du Plessis se raad aan spelers wat haar vlak wil bereik is om nooit tou op te gooi nie.
“Ek wou al baie met skaak ophou, omdat dit so baie tyd vat en met alles bots. Maar op die ou end is dit die moeite werd.”
