Local newsNews

KYK: Kempton is nie ‘kommin’ nie, sê Jacaranda FM se Rian

Die radio-omroeper het vanuit Kempton Park uitgesaai en tyd afgestaan tussendeur braaivleisvuurgeselsies om handtekeninge uit te deel.

“Mense van Kempton Park is nie kommin nie.”

Só het radio-omroeper Rian van Heerden in ’n eksklusiewe onderhoud met Express Vrydagaand vertel.

Hy en die Jacaranda FM Scenic Drive-span was in Seekoeistraat in Van Riebeeck Park, waar hulle saam met die gemeenskap ’n straatbraai gehou het. Die span het ingeloer nadat ‘n inwoner van die gebied, Suzette Smit, ’n SMS gestuur het om te sê die nuut-toegemaakte area is die perfekte plek vir ’n kuier.

En dit was. Gesinne en vriende het jolig om braaivleisvure gesels, terwyl kinders rondgehardloop en gespeel het. Dit alles terwyl Jacaranda goeie musiek verskaf het.

“Dit was altyd die hoofdoel van die straatbraai om mense bymekaar te kry,” het Rian vanuit die minibus waarin die span uitgesaai het, vertel. Buite het ’n ry mense gewag om sy handtekening te kry. Dít het hy later geduldig uitgedeel.

Lees Ook:

“Moet nooit neerkyk op jou dorp nie,” het Rian, wat oorspronklik van Randfontein af kom, gesê. “As jy van Kempton af is, beteken dit nie dat jy enige iets anders as net nog ’n Suid-Afrikaner is nie. Jy het struggles en drome nes almal.”

Hier is nog foto’s

Hy het van 4nm tot 7nm in Kempton Park uitgesaai, waartydens hy ook onderhoude met mense van die gemeenskap gevoer het.

Een storie wat veral vir hom uitgestaan het, is die verhaal van Kempton Park Hospitaal. Die fasiliteit is sedert 1996 verlate.

“Die hospitaal fassineer my. Ek verstaan eerlikwaar nie hoekom dit nou soos ’n wit olifant staan nie,” het Rian gesê.

Daarna het hy vertel dat hy gereeld in Kempton kom kuier vir verskeie projekte. “Dit is altyd lekker om terug te keer na Kempton. Hierdie was nie my eerste keer nie en dit sal ook nie my laaste keer wees nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button