Kyk: Allen Parkers het nog woema
Hierdie konsert was ten bate van die aftreeoord se verswakte versorgingseenheid.
Die inwoners van Allen Park was laasweek Saterdagoggend by dié aftree-oord in Cactusstraat op die planke te sien, waar hulle ’n stampvol saal met hul verskeie talente vermaak het.Hierdie spesiale geleentheid was ten bate van die oord se verswakte versorgingseenheid. Geld ingesamel deur kaartjieverkope sal gebruik word om noodsaaklikhede vir hierdie eenheid aan te koop.
Koos Beukes was seremoniemeester en het met grappies gesorg dat die program seepglad verloop het.
Maar eers is daar uit Prediker 12 gelees: “Dink aan jou Skepper in jou jong dae, voor die swaar dae kom.” Inwoners was aangemoedig om nie te veel aan hul ouderdomme te dink nie, maar liefs die lewe te geniet. Dít het hulle beslis op hierdie dag gedoen. Hoogtepunte was, onder meer, inwoner Bert Kruger se voorlesing van die gedig Kom ons Lag vir ’n Slag. “Hie-hie, ha-ha, ho-ho,” het hy nagemaak.
As gehoorlede in ’n slegte bui was voor die konsert, het Kruger se optrede dit heel moontlik verander.Nog ’n gunsteling was die Wieledans, waar vroue-inwoners in rolstoele en hul dansmaats op die maat van Pretty Belinda gedans het. “Hulle is ’n klompie tough dames,” het een gehoorlid in verwondering gesê.

