Brei om die koue vir kinders makliker te maak
Helpende Hand bedryf ’n nasionale breinaaldprojek by takke regoor die land om veral te sorg dat bejaardes besig kan bly.
Solidariteit Helpende Hand se tak in Kempton Park het dringend wol nodig om te sorg dat nagenoeg 140 behoeftige kinders teen die komende winterkoue gepantser word.
Ella Pieterse, voorsitter van dié tak, sê elkeen van dié hulpbehoewende kinders kort ten minste drie truie en veral donkerblou en -groen serpe, handskoene en mussies vir hul onderskeie skole.
“Helpende Hand bedryf ’n nasionale breinaaldprojek by takke regoor die land om veral te sorg dat bejaardes besig kan bly en voel hulle maak steeds ’n verskil in hul samelewing. Ons ondersteuners kan die hele jaar lank brei en ook wol skenk. Ons benodig egter mense wat vir ons die kledingstukke kan brei, asook mense om wol daarvoor te skenk,” het Pieterse gesê.
Hoewel hul hoofdoel is om vir die skoliere kledingstukke te brei, kan inwoners enige kleur wol skenk, aangesien ander kledingstukke ook vir babas tot kinders in matriek gebrei word.
“’n Woltrui vir ’n kind het verskeie voordele. Nie net is dit lekker snoesig nie, maar dit is nie-allergiese materiaal, sterker as ’n gewone sweetpakbaadjie en kan ’n paar seisoene lank hou. Dit help ook om ’n baba en kleuter se liggaamstemperatuur te reguleer en daar is boonop soveel mooi patrone vir kinders,” het sy bygevoeg.
Volgens Ella beplan die tak om tussen April en Augustus die klere af te lewer, daarna sal die kledingstukke verpak en gestoor word vir volgende winter.
Vir meer inligting oor die breinaaldprojek, om wol te skenk of om te help brei vir dié goeie doel, skakel Pieterse by 082 406 3655.
