Harde werk, toegewydheid en lang ure is maar net ’n paar eienskappe wat nodig is om as kultuurskool van die jaar bekend te staan.
Hoërskool Jeugland is deur die Gauteng-Noord-distrik van die onderwysdepartement aangewys as die 2018 kultuurskool van die jaar. Die Jeugies is ook aangewys as revueskool van die jaar.
By Jeugland word môre se sterre vandag gekweek. As mens in die vermaaklikheidswêreld gaan kyk, sal daar dikwels ’n Jeugie se naam oor mense se lippe beweeg. Name soos Leandie du Randt, Germandt Geldenhuys, Jacques Bessenger, Karen Wessels, Marco en Marcel Spaumer, Eden Classens en Schalk Bezuidenhout, om net ’n paar te noem.
Met sowat 500 leerders wat jaarliks aan Jeugland se kultuuraktiwiteite deelneem, kan mens met trots sê dat dit vir leerders ’n leefstyl word.
Die afrigting word deur talentvolle, entoesiastiese persone gedoen. Die revue en extravaganza maak gebruik van die kreatiewe choreograaf, Julie Ruthven. Die kore se dirigent, Gert Pottas, het verskeie kore wat hy suksesvol afrig.
By die toneel is die skool bevoorreg om die akteur Johny Klein as skrywer en afrigter te hê. Jeugland het ook goeie skrywers vir toesprake en die spanredenaars en enkelredenaars se afrigters is entoesiastiese ouers en onderwysers.
By die debat staan Mariaan Otto en Lydia Swanepoel by.
Saam met die onderwyserspan is die aktiwiteite in goeie hande en bereik elke aktiwiteit skitterende resultate. Sophia Smit is die kultuurhoof en sy het ’n maklike taak met sulke skitterende personeel en Jeugies wat elke oomblik van hul kultuuraktiwiteite geniet.
