Impie dra 29 medaljes weg by SA kampioenskappe
Hierdie talentvolle akteur kan nou 29 medaljes tot sy versameling byvoeg.
Ruanco Uekermann, ’n Graad Vyf-leerder by Laerskool Impala, sal ’n groter trofeekas moet kry.
Hierdie talentvolle akteur kan nou 29 medaljes tot sy versameling byvoeg, nadat hy by die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste vanaf 29 Maart tot 6 April in Rustenburg skoonskip gemaak het.
Ruanco het aan drama- sowel as modelwerk-kategorieë deelgeneem. Dáár het hy 15 goue-, 11 silwer- en drie bronsmedaljes verwerf.
“Al wat ek wil doen is om op die verhoog of op TV te wees,” vertel die blou-oog seun wat al in plaaslike films soos Stroomop en Kampterrein te sien was.
Volgens Ruanco was ’n hoogtepunt van die kampioenskappe om ‘n voormalige wenner van die wêreldkampioenskappe vir uitvoerende kunste, Stefan Benz, te ontmoet.
“Hy is so nederig al is hy die beste. Ek wil ook nederig wees.”
Ma Alet sê Ruanco gaan hierdie jaar aan nog kompetisies deelneem om nie net sy vaardighede te verbeter nie, maar om sy talente uit te leef.
