Jeugland-leerling Duan Ruthenberg (15) het gedurende die nuutste seisoen van Op Die Spel op kykNET verskyn en is as die Graad Nege-wenner aangewys. Die program is ’n spelkompetisie en Duan het deurgedring om teen die ander ouderdomsgroepe in die finaal op 1 Julie deel te neem.
Hier het hy ’n vierde plek behaal.
Sy pa, Albert Ruthenberg, het aan Express vertel: “Duan se liefde vir tale het al op ’n vroeë ouderdom begin, waar hy al voor skool begin lees het. Dit is sy gunsteling tydverdryf.
“Hy het ook ’n liefde vir ander tale en het onlangs ook begin om te leer Duits praat.”
Duan was nog altyd ’n boekwurm en het ’n liefde vir Engels- en Afrikaanse skrywers.
Op die vraag hoe Duan op Op Die Spel beland het, het Albert vertel dat sy seun bevoorreg genoeg is om vir Zelna du Plooy as sy onderwyser te hê.
“Die twee pak gereeld projekte saam aan en sy het Duan aangemoedig om in te skryf. Na ’n telefoniese oudisie, het sy hom ook elke keer na al die rondtes se opnames vergesel en hom aangespoor.”
Duan vertel dat sonder dié juffrou se aanmoediging sou sy sukses nie moontlik gewees het nie.
Hoewel Duan se ervaring op die reeks senutergend was, het hy dit baie geniet.
“Die kompetisie was straf, maar dit was ’n eens-in-’n-leeftyd-ondervinding. Dit het my baie trots laat voel om my skool te kon verteenwoordig in ’n kompetisie van so groot aard.”
Dit was vir hom selfs interessant om te ervaar wat die verfilming van so televisiereeks behels, asook al die moeite wat ingesit word om ’n enkele episode te skiet.
“Ek het ook die geleentheid gehad om van die akteurs van Binnelanders te ontmoet en middagete saam met hulle te geniet.”
Duan is nie net ’n top-presteerder op televisie nie. Sy pa vertel: “Duan het as Graad Agt leerder die Top 10 in akademie gehaal en is aangewys as die top-presteerder in Graad Agt vir 2018.”
Hy is ook aangewys as die Dux-leerder in die junior fase Graad Agt en Nege in 2018, is lid van die Verteenwoordige Raad vir Leerders van sy skool, en dien op die bemarkingskomitee.
Duan neem deel aan spanredenaars, krieket en gholf, en is deel van die revue, Jeugland se mannekoor en die Oos-Randse Jeugkoor.
Toe hy gevra is of hy vir lesers enige spelwenke kan gee, sê die jong man: “Daar is geen kortpad na tale leer nie. Leer jou taalreëls, pas dit toe en lees, lees, lees!”
