Tydens die afgelope November-eksamen het ’n leerder van Hoërskool Jeugland en een van Hoërskool Kempton Park in die top 20 in Suid-Afrika in Alpha-wiskunde geëindig.
Ulrika Smith (Jeugland) het 95% behaal en Kyla Meyer (Kempton Park) 94%.
Vier ander leerders het ook onderskeidings behaal. Hulle is Maryna Coetzer (Jeugland) met 92%, Chané van Niekerk (Kempton Park) met 91%, Nadia Fourie (Jeugland) met 83% en Leandré Robberts (Kempton Park) met 83%.
Alpha-wiskunde, voorheen addisionele wiskunde HG, is ’n buite-kurrikulêre vak wat aangebied word aan leerders met ’n besondere belangstelling in wiskunde. Alpha-wiskunde verklein die sprong tussen skoolwiskunde en universiteitswiskunde.
Leerders wat beoog om studierigtings soos aktuariële en handelsrigtings, ingenieurswese, toegepaste wiskunde en rekenaarwetenskap te studeer, word deeglik voorberei vir verdere studie.
