Nuwe lekkerleesboek word Saterdag hier vrygestel
Wiena Reyneke wou graag deur die skryf van haar boek, ‘n verskil in iemand se lewe maak
Soos wat Desember al hoe nader kruip en ons al die see kan ruik, begin mens wonder oor die leesstof waarmee om te ontspan en die afgelope jaar vaarwel toe te wens.
Indien jou lysie nog leeg is, woon die boekbekendstelling van Vredesreis, geskryf deur Wiena Reyneke, Saterdag om 9vm by Tulbach 55 by.
By dié bekendstelling sal Kempton Park se eie digter Stanley Cierenberg ’n kort voorlesing doen, gevolg deur ’n voorlesing en bekendstelling van Christa Roux se digbundel, bekend as Suid Afrikaanse Digters Hartswoorde: Simfonie van die See.
Die skrywer se goeie en jarelange vriendin, asook bemarker vir die funksie, Ronel Botes, het vertel dat Vredesreis nie net ‘n lekker leesboek is nie, maar ook ‘n boek om te geniet en te leef.
“Wiena vertel dat die skryf van haar boek ‘n nuwe ervaring vir haar was met elke tree wat sy gestap het. Om self haar boek te publiseer was ‘n keuse wat sy vol ywer aangepak het, maar wat verseker ook harde werk vereis het.
“Vredesreis is ‘n storie wat nie net jou siel raak nie, maar ook jou hartsnare. Ons dames hou mos van iets wat die hart raak en dis waar Vredesreis as storie ontstaan het, spesiaal vir elke vrou wat die seer van die lewe ken,” het Botes gesê.
Reyneke wou graag deur die skryf van Vredesreis ‘n verskil in iemand se lewe maak, en met die positiewe terugvoer wat sy tot dusver ontvang het, het sy haar doel bereik.
“Baie dames wat al die boek gelees het, vertel dat Vredesreis ‘n lekkerleesstorie is wat hulle laat huil het, maar ook laat lag het. Baie dames noem dat hulle op ‘n moeilike plek in hulle lewe is en dat hulle soveel antwoorde op hulle vrae gekry het om ook die lewe weer in die oë te kan kyk.”
Reyneke se leuse vir die dag is: “Sprei jou vlerke en vlieg hoog, maar geniet ook jou vredesreis.”
Vir meer inligting, gaan loer gerus op die Vredesreis Facebook-blad of besoek www.vredesreis.co.za.
