Matthew se kunstalent kom van nature
Hierdie Oos-Rand Akademie Graad Vier leerder het laasjaar sy kuns-avontuur in Julie aangepak toe hy kunsklasse by Yolande du Toit se Lapatique Art Studio in Glen Marais begin neem het.
Na slegs ’n jaar van sy kunstalent-ontwikkeling het Matthew Oosthuizen (9) een goue en drie silwer toekennings by die Suid-Afrikaanse visuelekunskampioenskappe in 2019 ontvang.
Hierdie Oos-Rand Akademie Graad Vier leerder het laasjaar sy kuns-avontuur in Julie aangepak toe hy kunsklasse by Yolande du Toit se Lapatique Art Studio in Glen Marais begin neem het.
“Yolande het Matthew se natuurlike kunstalent dadelik raak gesien en hom aangemoedig om vier van sy werke vir die Suid-Afrikaanse visuele kunskampioenskappe in November in te skryf,” het Matthew se ma, Ingrid, vertel.
Hy was gevra waar sy belangstelling vir kuns se oorsprong lê, waarna Matthew geantwoord het: “Ek hou baie van diere en om hulle te teken. Ek ken ook die mense van Adventures with Elephants en ek het besluit om hulle te help, omdat hulle gesukkel het om kos vir die olifante te kry.”
Adventures with Elephants is ’n veilige herberg vir olifante wat al sedert 2010 in Bela-Bela bestaan, nadat die Hensman-familie van hul familie-plaas in Zimbabwe verwyder is.
Die olifante wat tans by Adventures with Elephants te sien is, is Bela, die babatjie van die olifant-trop, Zambezi wat op 4 Oktober in 2015 by Adventures with Elephants gebore is, Mussina die leier van die trop, Shan, Nuanedi, Chova en Chishuru.
Adventures with Elephants se leuse is conservation through education en hulle het virtuele interaksies met skole regoor die wêreld.
“Hulle bied ook veilige interaksies met die olifante wanneer jy hulle besoek. Dit is waar Matthew sy uitmuntige passie vir die reuse ontwikkel het,” het Ingrid vertel.
Sy het verduidelik: “Gedurende die grendeltyd het dit tot ons gesin se aandag gekom dat Adventures with Elephants finansiële bystand benodig om die sewe olifante te help.
“Matthew het besluit dat hy graag ’n olifant vir hulle wil teken en so ’n fondsinsamelingprojek begin.”
Met dié wou Matthew graag hulde bring aan twee mans wat sy olifant-kunswerk beïnvloed het.
“Ek wil graag dankie sê aan Dawie Mocke wat in die South African Artist Magazine verskyn het, asook Larry Norton wat ’n foto van ’n olifant al die pad van Zimbabwe af gestuur het. Ek het die foto ook in my olifant kunswerk gebruik.”
Matthew het verduidelik dat daar elke Vrydag kunsklasse vir sy graad by die skool aangebied word.
“Ek verf gewoonlik diere. Soms is al die verskillende vorms van die diere moeilik om op papier te kry, soos ’n zebra. Ek word aanmekaar deurmekaar met die wit en swart strepe wat ek verkeerd inkleur.”
Hy verkies verf bo teken, aangesien dit soveel meer gerieflik is.
“Met inkleur moet jy vir ure daar sit en elke lyntjie perfek inkleur, en met verf gaan mens net oor.”
Sy gunstelling kleure is oranje, wit en swart.
“Dié kleure is gewoonlik in voëls, maar ek wil eers my zebra bemeester voor ek met voëltjies begin. Ek het nog nooit ’n mens in my lewe geteken nie,” het Matthew gesê.
Hy verkeer slegs eenkeer ’n week met sy besonderse talent en het aan Express vertel dat sy ma hom bemoedig om sy talent veel meer te gebruik.
Wanneer Matthew groot is, wil hy graag ’n kunstenaar óf ’n uitvinder en wetenskaplike word.


