Sterstatus: Chrizelle (25) skitter in 3de plek vir 2020
Chrizelle word dié jaar uitgenooi om in die agterskerms van 2021 se Sterstatus kompetisie ondersteuning te bied aan die nuwe deelnemers, sowel as om deel te wees van beöordeling.
Sonder om twee keer te dink het Chrizelle Joubert (25) van Aston Manor vir die Sterstatus-kompetisie ingeskryf.
Na ’n jaar se pret, spanwerk en netwerkgeleenthede het sy derde plek tussen 12 finaliste in die 2020-seisoen behaal.
Dié program bied die geleentheid aan jong dames om hul spore in die vermaakindustrie te trap. Sterstatus is ’n jaarlange veldtogkompetisie wat aangebied en op die Via televisiekanaal uitgesaai word.
“Ek was eers onseker wat die kompetisie behels, aangesien ek nog nie die eerste seisoen van 2019 gekyk het nie. Ek’t die advertensie op Facebook raakgeblaai en het eenvoudig besluit om aansoek te doen.”
Sy het vertel dat sy ’n liefhebber van haar gemaksone is en dat dit haar doelwit was om haar bloot te stel aan uitdagings wat in die ope wêreld te vinde is.
“Sterstatus se hoofdoel is om vrouens te bemagtig in die vermaaklikheidsbedryf en om sodoende enige drome vir aspirerende vrouens te bewerkstellig. Hetsy dit ’n aanbieder is, ’n aktrise, modelwerk, dus enige iets in die lyn.
LEES OOK: Glen Marais father calls on community to keep area clean
“Die kompetisie is gemik daarop om deelnemers aan al dié fassette bloot te stel en om die dames te leer hoe om elke fasset aan te pak en ook binne die veelsydige bedryf te netwerk.”
Sy vertel hoe gaaf elke deelnemer in die nuutste seisoen was en dat dit eerder in ’n susterskap ontaard het, bo ’n magstryd tussen mededingende kragte.
“Daar was nie een oomblik van afgunstigheid of katterigheid tussen die deelnemers nie, dit was bowendien ’n samehorige ondersteuningsnetwerk waar almal vir mekaar net die beste gegun het.”
Die avontuur het die deelnemers op die spel geplaas met verskeie uitdagings waarna die voltooing van elke taak ’n wenner afgekondig word.
“Dit het loopplankkompetisies, fotosessies, sosiale media uitdagings, toneelspel, aanbiedings en selfs ’n kortfilm produksie ingesluit.”
Die derde plek behaling bied vir Chrizelle nogsteeds die taak om agter die skerms van die 2021 Sterstatus kompetisie as mentor vir nuwe deelnemers te dien.
“Ek het nou ook vir ’n film-en-dramakursus by Brumilda van Rensburg se dramaskool aangesluit en ek is ook besig om te groei in die lyn en word genooi vir castings om vir akteurrolle aansoek te doen.”
In die finale stadium van die kompetisie was daar onderhoude gevoer met die finaliste wat ’n portfolio van die hele jaar se ervarings moes saambind en ten toon stel.
“Toe die paneel my vra hoekom ek ingeskryf het, het ek gesê dat ek wou bewys dat ’n doodgewone meisie die uitdagings kan aanpak en haarself blootstel, al voel sy nie die mooiste of mees talentvol nie.”
Voor sy Sterstatus bereik het, het Chrizelle vir vier jaar in Potchefstroom aan die Noord-Wes Universiteit deurgebring waarin sy BCOM Kommunikasie gestudeer, sowel as haar honneurs in bemarking voltooi het.
“My dieper liefde lê nogsteeds by die verhoog en die vermaaklikheidsbedryf. Ek was vier-jaar-oud toe ek eers begin het met balet, waarmee ek volhou het tot in my eerste jaar by Potchefstroom.”
Chrizelle se borrelende persoonlikheid wat drappeer met ’n helder glimlag is diep gewortel in Kempton Park vanwee sy volwassenheid bereik het by Hoërskool Jeugland.
Also follow us on: