Oud-Kempie stel debuut enkelsnit vry
Dié enkelsnit, wat op 19 Februarie bekendgestel is, was oorspronklik ’n trougeskenk aan sy vriende.
PietFrik se sangloopbaan het op Hoërskool Kempton Park se verhoog met revue-produksies begin. Sy debuut enkelsnit, Dis Net Jy, was deur Hugo Ludik van Muse Studios opgeneem en vervaardig. Ludik is beter bekend as ’n sanger wat deelgevorm het van trio Adam.
Dié enkelsnit, wat op 19 Februarie bekendgestel is, was oorspronklik ’n trougeskenk aan sy vriende. “Op die dag van die troue het ek besef dat hierdie lied meer as net swart op wit is, maar eerder ’n belofte aan jou ander helfte,” het hy vertel.
Vir hom lê die belang van ’n liedjie dit wat jy in jou hart dra.
“Ek skryf nie net om ’n liedjie te skryf nie. Ek skryf vir oomblikke. Ek wil graag hê dat mense na my liedjies moet luister om spesiale oomblikke te onthou. Ek voel musiek het tog so ’n gawe om ’n herinnering op te bring,” voeg hy by.
LEES OOK: Legal stokvel or Ponzi scheme?
Dis Net Jy weerspieël ’n lewensreis saam met die spesiale persoon in jou lewe. Die musiekvideo was teen einde Januarie buite Pretoria geskiet deur Weslou Visuals.
“Die konsep van die musiekvideo dra presies dieselfde boodskap oor as die lirieke,” het PietFrik vertel. “Dit handel oor verskillende aspekte van ’n liefdesverhaal. Die troudag, saam oud word, die struikelblokke en die lesse wat jy saam as ’n paartjie leer. Maak nie saak in watter storm jy jouself bevind nie, jy sal altyd die liefde van jou lewensmaat hê – saam met God natuurlik.”
Oorspronklik afkomstig van Springs, is PietFrik se vars kunstigheid diep gewortel in Kempton sedert sy tienerjare in Hoërskool Kempton Park.
Tussen die akademie en sport het hy tyd gemaak om aan die skool se revue deel te neem. Stadig maar seker het ’n liefde vir musiek en sang by hom begin posvat.
“Ek het altyd daarvan gehou om te sing en het my liefde vir musiek uitgeleef in die skoolrevue,” het hy vertel. Ek het nooit toe gedink dat dit my plan sou wees om die musiekbedryf te betree nie.”
Dis Net Jy se musiekvideo was op 26 Februarie bekendgestel. Volg gerus vir PietFrik op Facebook en Instagram @pietfrik.
Also follow us on:





