Kempie-hoof skryf brief van trots en hoop
Baie geluk Matrieks 2020, die sukses wat julle behaal het getuig van opoffering, geloof, vertroue en passie.
Van die hoof se kantoor:
Na ’n jaar van soveel onsekerheid kyk ons met dankbaarheid terug op hoe die matriekklas van 2020 meer as hulle kant gebring het. Ons harte is seer oor so baie “laastes” wat die jaar misgeloop is.
Maar vandag kan ons met trots sê: ‘Die skoolbanke is deur matrieks verlaat met senuwees van staal en ’n karakter wat rotsvas staan.’ Baie geluk aan elke matriekleerder van Kempies wat tydens ’n vreemde jaar steeds hard gewerk en uitstekend presteer het. Die dapperheid waarmee hierdie leerlinge die jaar se uitdagings aangepak het is nooit deur paniek oorskadu nie.
Baie geluk matrieks 2020, die sukses wat julle behaal het getuig van opoffering, geloof, vertroue en passie. Natuurlik is daar ook ander rolspelers en daarmee saam sê ek baie dankie aan elke onderwyser wat deur die jare ’n daadwerklike invloed op die leerders se skoolloopbaan gehad het.
Daar is waardering vir elke personeellid vir hulle opofferings in ’n jaar soos geen ander nie. Dankie aan elke ouerhuis wat verlede jaar, tydens die grendeltydperk, moed ingepraat het en die leerders in hulle self laat glo het.
LEES OOK: Allen Park onder nuwe bekwame bestuur
Steeds is ons in ongekende tye en die pad vorentoe beslis een wat baie uitdagings gaan bring. Daarom wil ons vir die matrieks van 2021 baie sterkte sê.
Hou jou oog op die einddoel. Werk hard en glo in jouself. Wanneer God jou ’n moeilike pad laat stap, voersien Hy jou van stewige skoene.
Die laaste gedagte dink ek vat alles saam : “A great attitude becomes a great mood; a great mood becomes a great day; a great day becomes a great year; a great year becomes a great life.”
Baie sterkte en seën aan alle Kempies.
Francois de Kock
Hoof van Hoërskool Kempton Park
Also follow us on:




