Hoërskool Kempton Park gesluit weens Covid-gevalle
Daar is tans nege positiewe Covid-gevalle, waarvan een ’n onderwyser is, en ’n groot aantal leerders en personeel wat moet isoleer, en daarom die drastiese besluit.
Kempies sal tot en met 24 Mei tuis moet bly aangesien talle leerders en een onderwyser positief getoets het vir die Covid-19 virus.
Die skoolhoof, Francois de Kock, het in ’n omsendbrief gesê: “Daar is tans nege positiewe Covid-gevalle, waarvan een ’n onderwyser is, en ’n groot aantal leerders en personeel wat moet isoleer, en daarom dié drastiese besluit.”
Die afwesigheid van leerders en personeel vanaf skoolgronde sal gebruik word om die skool van hoek tot kant te ontsmet en sodoende te verseker dat die skoolgebou ’n veilige omgewing sal wees, het De Kock gesê.
“Maandag en Dinsdag sal as ‘vakansie’ gesien word, maar daar sal wel vanaf 19 Mei werk/opdragte deur die personeel via Micorsoft Teams vir die leerders gelaai word. Ouers moet asseblief die belang van hierdie werk aan hulle seun en dogter beklemtoon.”
De Kock het verder versoek dat die ouers van die skool die besluit om die skool te sluit sal respekteer, aangesien Hoërskool Kempton Park se personeel te alle tye hul bes doen op akademiese gebied.
“Baie dankie vir die volgehoue ondersteuning, dit word opreg waardeer. Ouers is welkom om die adjunkhoof, sowel as die skoolhoof, te skakel indien daar enige navrae is.”
