Local newsNewsSchools

Kruinies, familie bring hulde aan skoolhoof

"Kempton Park en Kruinsig is waar hy sy hart se punt gevind het.”

Laerskool Kruinsig het met groot hartseer hul skoolhoof, Dr Johan Kruger (54), verlede week gegroet.
Kruger is op 21 Julie oorlede.
Oud-leerders, familie en kollegas het hulle laaste medelye betoon in boodskappe ter nagedagtes aan hom.
“Dit is waar dat ons almal voetspore agterlaat, dat ons almal die vermoë het om die grond rondom ons te versteur terwyl ons deur hierdie lewe wandel. My boetie se voetspore in die onderwys was diep, en hy was ongeveer 32 jaar lank betrokke in die formele onderwys,” het sy broer, Jaco Kruger, gesê.
Johan het sy studies aan die voormalige Potchefstroom Onderwys Kollege voltooi.
“Hy het op ’n keer kwytgeraak dat as jy vrugte wil pluk moet jy bereid wees om op ’n warm dag in harde grond ’n gat te grou. Dit is hoe hy sy werk en lewe aangepak het.
“Hierdie vasberadenheid het hom later die rang van luitenant tydens sy diensplig in die eertydse weermag besorg. Dit het gesorg dat hy 11 Comrades voltooi het en hom die nimmereindigende student gemaak wat sy doktorsgraad met lof behaal het. Dit is ook wat hom so hard laat veg het teen hierdie ongenadiglike siekte,” het Jaco vertel.
“Sy taak en doel in hierdie lewe was om elke jongmens die kans te bied om die beste moontlike weergawe van hulleself te wees.
“Kempton Park en Kruinsig is waar hy sy hart se punt gevind het. Vir my boetie was Kruinsig sy kind en sy kroos wat hy wou koester en sien groei. Sy regte kinders, Johan en Anè, albei produkte van Kruinsig, en sy vrou, Mariëtte, het geweet hulle deel hom met al die Kruinies.
“Hulle het hom toegelaat om sy sielsgeluk daar te vind.”

Hy was lief vir braai, vriende en familie
“As my boetie nie by die skool was nie, was hy waarskynlik besig om te braai. Dit was altyd een van sy gemaklikste oomblikke as hy vriend en familie onder die afdak kon onthaal, nie net met selfgemaakte wors nie, maar met sy vriendelike roggel-laggie wat sy besoekers laat afsaal het.”
Jaco onthou sy broer se breë, trotse glimlag en die duisende grappies wat “boeta” vertel.

Kruger se gesin deel ’n boodskap
“Pappa, jy was een ongelooflike mens, iemand wat meer beteken het vir ons drie as wat jy ooit kon dink. Pappa, jy was nie net ’n goeie man nie, maar ’n fenominale pappa.
“Vir 22 jaar het ek jou geken, vir 22 jaar het jy my inspireer en vir 22 jaar was jy my rots en my trots.
“Die 20 jaar wat jy deel van boeta se lewe was, kan ek vir jou sê, jy het een ongelooflike indruk op hom gelaat. Hy is werklik ’n Kruger in murg en been.
“Die baie jare wat jy deel was van Mamma se lewe was die jare wat sy altyd sal koester. Hoe neem ons afskeid?
“Hoe gaan ons drie saans televisie kyk sonder die koffie wat jy versoek of jou glas water wat ons gedurig moes volmaak.
“Pappa, jou glas en jou koffiebeker is leeg, nes jou plekkie hier in die huis. Ons is lief vir jou.”

Laerskool Kruinsig het dié volgende woorde
Die Kruinies se eerste kennismaking met Dr Kruger het plaasgevind in Januarie 2006 toe hy as skoolhoof van Kruinsig aangestel is.
Dit was van die begin af duidelik dat hierdie ’n formidabele man was wat sou werk met ywer tot voordeel van sy skool.
Hy het sy loopbaan as hoof van Kruinies met passie aangepak het.
Hy was ’n mense-mens met ’n oop-deur beleid wat ieder en elk gehelp het om probleme die hoof te bied.
Hy was veral geliefd onder die kinders en die personeel wat sy kennis en skerp sin vir humor altyd geniet het.
Die leerders het in hom ’n hoof, pa en vriend gehad wat hul laat skaterlag het met die grappies wat hy altyd oor homself gemaak het om hulle op hul gemak te laat voel.
Hy sal altyd onthou word as die trotse skoolhoof waarmee hy altyd sy skool verteenwoordig het.
Hy sal vir altyd onthou word vir die voorbeeld waarmee hy gelei het met sy nederige, warm, skerpsinnige humorsin en diepe wysheid.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button