Edleen se hokkie kook
Hulle het ook vanjaar die reeks vir medium skole vir die derde agtereenvolgende jaar gewen
LAERSKOOL Edleen het vanjaar ‘n besonderse goeie jaar op die hokkieveld beleef.
Hul spanne het skoonskip in die Kemptonparkliga gemaak en nie een wedstryd in die liga verloor nie.
Hulle het ook vanjaar die reeks vir medium skole (agt skole is hierby betrokke) vir die derde agtereenvolgende jaar gewen.
Tydens die Oos-Gauteng uitspele het al drie die spanne derde gekom. Edleen was die enigste skool in die Oos-Gautengliga wat al drie hul ligaspanne by die uitspele gehad het.
Edleen het vanjaar 91 doele aangeteken en slegs 11 afgestaan, voorwaar ‘n puik prestasie. Ses meisies is vir provinsiale spanne gekies.
Wat hierdie prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat die skool se hokkie nog maar in sy babaskoene staan. Dit is maar die vierde jaar wat dié sportsoort by die skool aangebied word. Laerskool Edleen word gereken as een van die kleiner skole in Kemptonpark en in Oos-Gauteng, maar met hokkie ding hulle mee teen die grootste skole in die provinsie.
Mnr Hannes Roodt, die skoolhoof, skryf die sukses van hul hokkie aan drie faktore toe – puik afrigters wat baie slim afrig, ‘n hokkie-akademie by die skool waar kinders puik ekstra afrigting kry en die geloof wat personeel in Edleen-kinders het om teen die bestes te kan meeding.
