TWEE Kemptonparkers, Hennie Breytenbach en Jacques Fouché, het hul Proteakleure by die onlangse SA Luggeweer Veldteiken nasionale proewe in Pretoria verwerf.
Sestig skuts het gekwalifiseer om aan die jaarlikse proewe, waar Suid-Afrika se Proteaspan gekeur word, deel te neem. Drie ander Kemptonparkers, Natali Terblanche, George Holloway en Dirk Teesen het ook deelgeneem, maar nie die span gehaal nie.
Breytenbach en Fouché het albei in die senior afdeling geskiet.
Die skuts het oor drie dae na 50 teikens op 25 bane geskiet. Die skuts wat oor die drie dae die hoogste tellings gekry het, is vir die span gekies.
Breytenbach, wat al 12 jaar lank skiet, en Fouché, wat vir drie jaar skiet, maak deel uit van agt skuts wat Suid-Afrika by die Wêreld Luggeweer Veldteikenkompetisie gaan verteenwoordig.
Fouché was in 2012 derde in die junior afdeling by die wêreldkampioenskappe en in 2013 tweede in die junior afdeling.
Kemptonpark het sy eie ‘n luggeweer-veldteikenklub. Enigeen wat belangstel om luggeweer te skiet, kan met hulle in verbinding tree by eracft@gmail.com
