Blink loopbaan wag op oud-Riebie
Die afgelope rugbyseisoen het hy 41 drieë vir sy span gedruk
‘n Belowende rugbyloopbaan wag op ‘n voormalige rugbyspeler van Laerskool Van Riebeeckpark.Dirk Janse van Rensburg het onlangs aan die Bokkie-week deelgeneem nadat sy uitblinkerspel die oog van keurders gevang het.
Hy het verlede jaar sy laerskoolloopbaan by Laerskool van Riebeeckpark voltooi en is tans ‘n graad 8 leerder by HTS Middelburg.
Sy rugbyloopbaan het as ‘n 0/7 Valkie in graad R begin. Daarna het hy elke jaar vir die A-span by die Riebies gespeel. In graad 6 het hy al vir die eerste span gespeel.
Gedurende die afgelope 2014 seisoen het hy vir Middelburg aan die Wilde Klawer-reeks in Kimberley deelgeneem. In Maart het hy by by die Mauritz Hansen-rugbyweek in Naboomspruit, waar spanne van regoor die land deelgeneem het, gespeel.
Op die tweede dag is hy aangewys as die speler van die wedstryd en met die finale as die speler van die dag.
Hy is vir Suidoos-Transvaal gekies om van 7-11 Julie aan die Bokkie-winterweek deel te neem en in Augustus aan die sewes Bokkie-somerweek in Vereeniging. Hier is hy vir die 0/14 Bokkie-uitnodigingspan gekies.
Hy het die tweede meeste drieë in die reeks gedruk en die afgelope rugbyseisoen altesaam 41 drieë.
Sy passie is beslis rugby, maar hy is ook mal oor atletiek en jag. Sy grootste droom is om eendag die Groen en Goud oor sy kop te trek.
