Onnie maak nie net somme nie – hy skop ook ‘n hond uit ‘n bos
Hy het ná 18 jaar weer begin deelneem
‘n Kempton Park laerskoolonderwyser staan nie net voor sy klas nie, maar is ook ‘n kranige skopbokser.
Christo Swart (49) is só goed, dat hy tans met ‘n wêreldtitel spog. Hy het op 14 November die swaargewig (75kg+) ligte kontak-afdeling by die Wêreld Skopboksfederasie se kampioenskappe in Prague gewen.Dié departementshoof senior fase by Laerskool Mooifontein Primary het in die finaal teen die verdediginde kampioen, ‘n Duitser, baklei en hom in twee rondtes met punte geklop.
Swart, wat ook wiskunde gee, het is in 1995 ook na die wêreldkampioenskappe genooi, maar kon as gevolg van finansiële redes nie gaan nie.
Hy het die sport in 1995 en 1996 beoefen, maar het daarna net afgerig.
Hy het in 2013 sy nasionale Protea-kleure as afrigter van die Suid Afrikaanse volkontakspan, wat in Mauritius deelgeneem het, ontvang.
Die lus was egter te groot en dié pa van twee het weer vanjaar begin deelneem. In April, ná ‘n verdeelde beslissing, was hy tweede in ligte kontak (0/94kg) by die Suid-Afrikaanse skopbokskampioenskappe, wat deur WAKO (World Association of Kickboxing Organisations) aangebied is.
‘n Maand later is hy as SA kampioen by die Gauteng-kampioenskappe aangewys.
Swart, wat al nege jaar by Laerskool Mooifontien Primary is, maar in Benoni bly, het gesê dit was ‘n baie emosionele oomblik toe hy as wêreldkampioen aangewys is.
Hy het op 17 November na Suid-Afrika teruggekeer en is met ‘n groot gelukwensing by die skool ontvang.
.
