Hy is wêreld se beste skopbokser
Van Niekerk gee alle eer aan sy Hemelse Vader wat hom in staat gestel het om op die kampioenskappe te presteer
PLAASLIKE skopbokser, Gerhard van Niekerk van International Sport Fighting Organisation, is die wêreldkampioen in die 0/75kg afdeling vir mans bo die ouderdom van 40 jaar.
Hy het Suid-Afrika in November by die World Kickboxing Federation Wêreldkampioenskappe in Praag in die semi-kontakafdeling verteenwoordig.
Van Niekerk het eerste teen ‘n Oostenryker baklei. Hierdie geveg is tydens die eerste rondte gestop, aangesien Van Niekerk reeds 10 punte voor was. Dit is een van die reëls dat enige geveg gestop moet word wanneer een van die deelnemers 10 punte voor is.
Sy oorwinning het hom laat deurdring na die finale geveg om die wêreldtitel.
Gedurende die titelgeveg het Van Niekerk teen ‘n Duitser baklei. Hierdie geveg het hy na twee rondtes van twee minute elk met drie punte gewen.
Van Niekerk gee alle eer aan sy Hemelse Vader wat hom in staat gestel het om op die kampioenskappe te presteer, asook sy afrigter, Shihan Danie du Plessis van ISFO, wat hom gehelp voorberei het vir die wêreldkampioenskappe.
