Local sportSport

Onnie blaas by sewes in Hong Kong

Hy het sy provinsiale kleure in die sport as 'n 0/16 speler vir die Valke verwerf en weer as 'n 0/19 speler

‘n Kemptonparkse onderwyser is tans in Hong Kong waar hy as skeidsregter optree by die Hong Kong tiens en sewes-toernooi.

Dit is Jaco van Rensburg van Laerskool Van Riebeeckpark se tweede internasionale toernooi.

Die toernooi vind van 24-29 Maart plaas en spanne van regoor die wêreld, insluitend Suid-Afrika, neem deel.

Dié 27-jarige se eerste internasionale toernooi as skeidsregter was tydens die 2013 Dubai sewes.

Van Rensburg, wat op sy dag vir die Valke se 0/21 span uitgedraf het, is tans rugby-afrigter by die Riebies, ‘n laerskole top 10 en laerskole provinsiale skeidsregter.

Hy het sy provinsiale kleure in die sport as ‘n 0/16 speler vir die Valke verwerf en weer as ‘n 0/19 speler.

Hy het by skeidsregterwerk betrokke geraak toe hy in 2006 by die Laerskole Skeidsregtersvereniging van die Valke aangesluit het. In 2010 het hy ook by die Valke se senior vereniging aangesluit.

“Om internasionale erkenning te kry moes ek aan sekere kriteria voldoen. Ek moes onder meer ‘n reëleksamen en fiksheidstoets slaag,” het hy gesê.

“Jy gaan deur ‘n keuringsproses en prestasies op die provinsiale sewesvlak word ook in ag geneem.”

Dié oud-Jeuglander verkies sewes bo die vyftienman weergawe van die spel. “Dit is baie vinnig en as skeidsregter hardloop jy heeltemal ander lyne wat vir jou meer spasie bied. Voor jy jou oë uitvee, is die wedstryd al verby.”

Hy is in November getroud en daar is geen tyd vir ander stokperdjies nie.

“My stokperdjie is om skeidsregter te wees. Daar is nie tyd vir enigiets anders nie. Ek blaas ongeveer 80 wedstryde ‘n seisoen?

En wie is sy gunsteling provinsiale span?

“Definitief die Sharks!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button