Local sportSport

Engeland wink vir talentvolle Rossouw

Hierdie oud-Kruinie is besig om vir homself naam te maak as kolwer

‘n Jong, belowende krieketspeler van Kemptonpark vertrek Maandag na Engeland waar hy vir die volgende vyf maande vir die Engelse klub, Pelsall net buite Birmingham, sal speel.

Danie Rossouw van Bredell sal in die premierliga speel en hoop om gedurende dié maande waardevolle ervaring op te doen.

Dié topkolwer het in Desember as plaasvervanger vir die Proteas diens gedoen toe die Wes-Indiese Eilande hier getoer het. Hy het ook as veldwerker opgetree as gevolg van die talle beserings in Protea-geledere tydens die toets op SuperSport Park.

Dit was gedurende hierdie tyd wat Pelsall Krieketklub Rossouw genader het om in vanjaar se afseisoen vir hulle te speel.

Rossouw het sy skoolloopbaan in 2002 by Laerskool Kruinsig begin en het sommer vroeg ‘n passie vir krieket ontwikkel.

Hoewel hy ook ‘n kranige rugbyspeler was, het sy liefde vir krieket die oorhand gekry en hy het reeds op laerskool ‘n jaar bo sy ouderdomsgroep gespeel.

Sy eerste blootstelling in die buiteland was in graad 7 toe hy genooi is om saam met Tommy Hammond en ‘n KZN O/13 uitnodigingspan na Engeland te toer.

Tydens sy eerste hoërskooljaar by Hoërskool Kemptonpark het hy reeds vir die eerste span gespeel.

Na vele oorweging het Rossouw besluit om sy hoërskoolloopbaan vanaf graad 9 by Hoërskool Waterkloof voort te sit en het dieselfde jaar die trofee as junior krieketkolwer van die jaar verower.

In graad 10 is hy vir Waterkloof se eerste span gekies en speel ook daardie jaar vir die eerste keer op nasionale TV in die jaarlikse skole T20-toernooi wat deur Waterkloof gewen is.

In dieselfde jaar toer hy weer na Engeland saam met Waterkloof se eerste span en hulle verloor slegs een wedstryd teen ‘n Australiese toerspan.

As ‘n junior speler in die span was hy daardie jaar die derde beste kolwer en is vir Northerns se O/16 span gekies.

Gedurende sy voorlaaste jaar op skool het Rossouw homself as ‘n nommer 5/6 kolwer gevestig en ook met welslae as paaltjiewagter diens gedoen. In 2012 ontvang hy die trofee as die senior kolwer van die jaar en speel ook vir Northerns se O/17 span.

In sy matriekjaar is hy as Waterkloof se eerstespankaptein gekies en hy het sy span na 22 agtereenvolgende oorwinnings gelei. Waterkloof was daardie jaar vir agt maande die top krieketskool in die land.

Hy is as speler van die jaar, veelsydigste speler van die jaar en paaltjiewagter van die jaar aangewys.

Hy is ook vir Northerns se O/19 (Coke-week) span gekies waar hy 106 nun aangeteken het – een van slegs vier honderdtalle op die toernooi.

Gedurende sy matriekjaar het hy ook vir Tswane University of Technology (TUT) se premierligaspan in die 2013/2014 seisoen gespeel en die trofee as die belowendste speler ontvang.

Laasjaar, net na matriek, het Rossouw by die Sport School of Excellence aangesluit waar hy voltyds sy krieketpassie beoefen en homself ook as ‘n vlak 1 krieketafrigter bekwaam het. Hy lewer ook diens by Pretoria Krieketakademie waar hy betrokke is by die afrigting van laerskoolseuns.

Tydens die 2014/2015 seisoen het hy homself as paaltjiewagter en een van TUT se topkolwers gevestig. Dit was ook laasjaar dat hy ses sesse in een beurt tydens ‘n ses-‘n-kant-wedstryd op SuperSport Park gemoker het.

Daar wag voorwaar ‘n blink krieketloopbaan op dié jong speler en hopelik sal Suid-Afrikaners hom in die toekoms in Protea-kleure sien.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button