Struwwelpeter: ‘Classic education’ of nie?
Struwwelpeter sou baie liewer klassieke tale op skool geleer het as vakke soos boekhou en metaalwerk

KENYA en Gauteng, sê die mense, het die beste klimaat in die wêreld.
Die Kaap is mislik in die winter – koud, klam en nat.
Struwwelpeter het besluit hy’s te oud om koud te kry en dus het hy sy nuttelose oop kaggel vervang met ‘n “slow combustion”-toestel wat met hout werk. Die Duitsers noem hierdie ding ‘n “kacheloven” en as jy hom mooi stel, dan produseer hy 7Kw hitte – genoeg om die hele huis warm te maak en te hou.
Vandag, byvoorbeeld, ‘n nat 15 grade buite en ‘n heerlike 24 grade in die huis.
Maar wat veral lekker is, is dat die stofie een bloekomstompie per uur gebruik. Dus benodig jy 12 stompies, teen 70c elk – of te wel R8,40 se hout – vir ‘n 12-uur dag.
As ek nou 7Kw elektrisiteit vir 12 ure gebruik het om dieselfde doel te bereik, sou dit my 12x7x R1.12 per dag kos – dus omtrent R90 per dag. Ek weet nie watter een ek die meeste geniet nie – die lekker vuurtjie of die R90 per dag wat ek nie aan Eskom hoef te betaal nie.
* * *
Struwwelpeter lees anderdag die biografie van Schalk Pienaar. ‘n Man wat nie met hom laat mors het nie. Hy het selfs later, as redakteur van DieTransvaler met Hendrik Verwoerd vasgesit toe laasgenoemde aan hom probeer voorskryf het wat om in sy koerant te publiseer.
Maar ek loop my storie vooruit. Die ding met Pienaar was dat hy sy BA op Stellenbosch Cum Laude geslaag het en boonop ‘n Rhodes-beurs na Oxford gewen het.
By Oxford aangekom, probeer hy registreer vir ‘n MA, maar dit word nie toegelaat nie. Hy moet eers ‘n “klassieke” Oxford BA kry voordat hy dit mag doen. Pienaar verduidelik dat hy reeds ‘n BA graad het. Dit tel nie by Oxford nie.
Gevolglik nooi Pienaar die universiteit en sy amptenary om iets obseen (maar fisies onmoontlik) met hulle regulasies te doen en hy neem die volgende skip terug.
Net daarna lees ek ‘n boek deur Bill Bryson waarin hy Oxford afmaak as outyds: “I have the greatest respect for the university and its 800 years of intellectual toil but I must confess that I’m not entirely clear what it’s for, now that Britain no longer needs colonial administrators who can quip in Latin.
“I mean to say, you see all these dons and scholars striding past with holes in their jumpers, absorbed in deep discussions about the Leibnitz-Clarke controversy or post Kantian aesthetics in upper Silesia…”
Struwwelpeter stem nie saam nie. Hy het al verskeie Britte met sogenaamde “classic education” ontmoet en die feit dat hulle Latyn en Grieks op skool geleer het, gee hulle, myns insiens, die vermoë om nie alleen op hulle voete te dink nie, maar ook die gawe van laterale denke.
Struwwelpeter sou baie liewer klassieke tale op skool geleer het as vakke soos boekhou en metaalwerk.
Hy lig sy hoed vir Lord Allen wat gedurende die Anglo-Indiese oorlog die stad Sind ingeneem het. Hy stuur toe ‘n telegram aan die War Office: “Peccavi”(Latyn vir I have sinned).
En hulle het dadelik sy woordspeling verstaan. Sien, hulle was ook opgevoed.
Terloops, hoeveel generaals in ons huidige weermag is ordentlik opgevoed?
* * *
Johhny Grobbelaar vra: “Wat noem jy iemand wat sonder ‘n bottel wyn by ‘n braaivleis aankom? Persona non Graça.
* * *
‘n Man en ‘n vrou sit ewe romanties by ‘n tafel in ‘n deftige restaurant. Skielik glip die vrou onder die tafel in.
‘n Bekommerde kelner sê aan die man: “Meneer, u vrou het sopas onder die tafel beland!”
“Nee,” antwoord die man. “My vrou het sopas by die voordeur ingekom.”
* * *
En nou n grappie wat ek net in Engels kan vertel.
Mr Wong is in Johannesburg on a business trip from Beijing. His hosts treat him to a round of golf at a luxury course.
Mr Wong has never played golf before but he soon catches on. Back home, Mrs Wong asks how the trip went.
“Very well,” answers Mr Wong. “I played a Western game where you hit a little white ball with a long stick. Name of game is ‘Oh sh*t!'”
