Volkspelers vier 100-jarige fees
Alle oud-volkspelers en vriende word uitgenooi om saam te kom speel en sing
GAUTENG vier die 100 jarige bestaansjaar van die volkspelebeweging met ‘n groot makietie die naweek van 30 Mei.
Al die amptelike feesgeleenthede is by die Curro Serengeti in die Serengeti Landgoed.
Die Vrydagaand is daar ‘n heerlike mengelmoes van kleur en klank met ‘n internasionale kultuurdansaand waar die volkspelers saam met ten minste 10 ander groepe die toeskouers gaan vermaak.
Volkspele het sy oorsprong in Europa gehad vroeg in die twintigste eeu toe dr Pellissier musiek uit die Afrikaanse stamlande saamgebring en verwerk het vir Suid-Afrika.
Op 30 Mei sal van hierdie lande hul hedendaagse volksdanse deel. Dit sluit in Skotse Country-dansers, die Grieke, Iere en Serbiërs. Dans-skole regoor Gauteng doen moeite om jongmense die oorspronklike dansvorme te leer en hierdie is die geleentheid om almal op een aand te sien.
Kaartjies sal by die deure beskikbaar wees, maar kan ook bespreek word by annabe@absamail.co.za. Toegang is R30. Die vertoning begin om 7.30nm.
Saterdagaand is dit die volkspelers se beurt met ‘n fees-saamtrek in dieselfde saal. Alle oud-volkspelers en vriende word genooi om saam te speel en sing. Toegang is R15 ‘n persoon.
‘n Koor-belaaide erediens word die Sondagoggend om 10vm gehou. Besoekers is welkom.
