Editor's choice

Groot dankie vir ‘n groot man

P91 word danksy Wykmans se aangehoue pleidooie herstel na noodlottige ongeluk

CORRIE LUBBE skryf:

Ek kan die Vader in die Hemel nie genoeg bedank nie vir Tonnie Wykmans as persoon wat soveel vir die samelewing omgee dat hy vir hul veiligheid baklei.

U het reeds voor Leon se ongeluk die byna onmoontlike taak aangepak om vir die gemeenskap se veiligheid op die P21 te veg, aangesien die pad ‘n wesenlike gevaar vir padgebruikers ingehou het. Dit is met trots dat ek u gelukwens met die welslae wat u bereik het.

Vandag wil ek namens myself, my kinders en familie ‘n groot baie dankie sê vir alles wat u vir ons gedoen het. Niemand besef meer as ons nie wat u bereik het, want u het soveel mense so baie hartseer gespaar, want ‘n tweede ongeluk sou definitief gebeur het.

Ek wonder hoeveel mense besef hoe gevaarlik water op die pad is? Sodra ‘n voertuig die water tref, swaai dit buite beheer. Hoe hoër die spoed, hoe erger die gevolge.

Ek was nou die dag weer by my man se ongelukstoneel en was verstom oor hoe pragtig en veilig die pad herstel is. My hart het geswel van trots op die eindresultaat van u harde werk! Dit was glad nie ‘n maklike paadjie vir u om te loop nie. Ek persoonlik is bewus van hoe hard u baklei het om hierdie mylpaal te kon bereik.

Ek wil graag hê die gemeenskap moet weet van ‘n groot man soos u! Elke keer as hulle die P21 gebruik en verby Leon se kruisie ry, moet hulle weet dat die pragtige herstelwerk en gevolglike veilige pad, aan u en u alleen te danke is.

Ek beskou die hele projek as ‘n monument vir u harde werk.

Leon was ‘n goeie man, een van die min wat daar nog op aarde is. Hy het sy hele lewe daaraan gewy om ander mense te help. Niks was ooit te veel vir hom om vir iemand te doen nie.

Hy sou selfs sy lewe vir iemand anders gegee het en ek dink dis presies wat gebeur het. Met sy dood het hy regtig vir heelwat ander motoriste ‘n tweede kans op lewe gegee. Dank die Vader dat u daar was sodat sy laaste “goeie daad”, as mens dit so kan noem, nie vergeefs was nie.

Ek is ook opreg dankbaar vir elke persoon wat op mnr Wykmans se pleidooie gereageer en gehelp het dat die P21 so pragtig herstel word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button