Liewe Heksie vlieg Boksburg toe
Twee stories word tydens die konsert opgevoer
LEFRA Produksies toer reeds sedert 2009 met baie suksesvolle Liewe Heksie-produksies.
Twee nuwe Liewe Heksie-stories het nou die lig gesien en die jongspan kan nader skuif, want Liewe Heksie en haar kaboutermaats besoek die Live Arts Little Theatre in Boksburg op Saterdag, 5 Maart om 9vm.
Die skepper van Liewe Heksie, Verna Vels, het kort voor haar dood ‘n splinternuwe storie spesiaal vir Lefra Produksies geskryf, Liewe Heksie en die Tuindwergie.
Voor pouse word Liewe Heksie en Botterblom opgevoer. Botterblom is Blommeland se koei wat vir die hele Blommeland melk verskaf. Maar Botterblom is kwaad. Karring, Blommeland se melkkabouter, laat niemand by Botterblom toe nie en Botterblom raak baie eensaam.
Na pouse is dit Liewe Heksie en die Tuindwergie, waar ons Casper die tuindwerg ontmoet toe hy een oggend in Heksie se tuin wakker word. Maar wie kruip daar agter ‘n boom weg?
Vier uiters talentolle akteurs gee aan die Liewe Heksie-karakters lewe op die verhoog. Anmari van Achterbergh speel die rol van Liewe Heksie, Botha Enslin die rolle van Mattewis, Kwaaitjie Kabouter, die Geelheks, Borrie die Gifappeltjie, Griet, Karel Kat, Botterblom en Koning Rosekrans.
Marissa Claassen is te sien as Blommie, Kerrie die Gifappeltjie en Koning Rosekrans. Phillru van Achterbergh vertolk onder meer Casper die Tuindwergie, Borrie die Gifappeltjie, Karring en Klein Kwaaitjie.
Bespreek jou kaartjies vir Liewe Heksie by Computicket.
