EntertainmentLifestyle

Reuse skouspel by Van Riebeeck Laer beplan

Dit vorm deel van die Riebies se 30ste verjaardagvieringe

“Breek wat gebreek moet word en bou wat moet bly staan. Laat my veg om heel te maak…”

Só lui van die lirieke uit die temalied van Laerskool Van Riebeeckpark se musikale skouspel, Legacy.

Dié skouspel, wat van 20 tot 22 Oktober by Kaleideo aangebied word, is die hoogtepunt van die skool se dertigste bestaansjaarvierings.

“Ons het op die tema, Legacy – wat’s joune, vir ons feesjaar besluit omdat ons as Riebies werklik ‘n verskil wil maak, nie net in die lewe van elke leerder, ouer en opvoeder nie, maar ook in die gemeenskap as ‘n geheel,” sê Vivian Botha, skoolhoof.

“Benewens die Legacy-produksie, rol Laerskool Van Riebeeckpark vanjaar ook 30 goeddoenprojekte uit. Só reik elkeen van ons meer as 30 klasse uit na organisasies en instansies in ons gemeenskap,” sê Botha.

Die temalied vir die Legacy-produksie is spesiaal deur Joshua ná die Reën geskryf. Hy sal die verhoog deel met musieksterre Brandon October, MoniQue en Corlea Botha, asook meer as 700 leerlinge van Laerskool van Riebeeckpark.

Aktrise Leandie du Randt, oudhoofleier van die Riebies, tree as die verteller op.

“Die omvang en skaal van die Legacy-produksie is iets wat na my wete nog deur ‘n aangepak is nie – van die hoëgehalte orkesverwerkings tot die oudiovisuele beelde, topkunstenaars, deftige dekor en honderde trotse Riebies,” het Julie Ruthven, Riebie-opvoeder en Legacy-choreograaf, gesê.

“Dit neem skoolproduksies na ‘n heel nuwe vlak. Ek is reeds vir meer as 16 jaar by skoolproduksies, kompetisies en revues betrokke, maar Legacy is absoluut in ‘n liga van sy eie. Die kinders is die helde van die vertoning en dit is voorwaar ‘n professionele musiekproduksie wat vir geen ander hoef terug te staan nie,” sê Ruthven.

“Ons vier nie net Laerskool Van Riebeeckpark se trotse geskiedenis nie, maar dra ook die boodskap uit dat ons almal saam moet werk en bou aan ‘n nalatenskap waarvan ons kinders en hul kinders die vrugte sal kan pluk. Die tyd is nou en die verantwoordelikheid ons s’n,” meen Rudi Krause, voorsitter van die skool se beheerliggaam.

Volgens Ruthven het die jare tagtig, as ontstaanstydperk van die skool, as skilderdoek vir die musiek en lirieke gedien. “Wie sal ooit die temaliedjies van bekende televisiereekse soos MacGyver, A-Team, Airwolf en ander vergeet?

“Verder is daar nostalgie met Karoonag van Coenie de Villiers en Wind beneath my Wings van Bette Midler, en natuurlik hedendaagse treffers soos Spore van Elvis Blue, Dis ‘n Land van Snotkop (in die jare tagtig ‘n treffer van Carike Keuzenkamp) en Lig op die Horison van Joshua ná die Reën,” sê Ruthven.

“Voeg hierby treffers soos Agter elke Man, Voshaarnooi, Barcelona, Glory of Love en We are the World, en jy het ‘n voetestamp-lekker musiekreis soos min.

Kaartjies vir die Legacy-produksie is by Laerskool Van Riebeeckpark beskikbaar. Skakel 011-976-2633.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button