EntertainmentLifestyle

KYK: Oud-Jeugie is in nuwe Afrikaanse fliek te sien

Behalwe vir haar loopbaan as aktrise het sy ook haar eie klerereeks en is 'n motiveringspreker.

’n OUD-JEUGIE wat reeds naam vir haarself in die Afrikaanse rolprentbedryf gemaak het, is nou weer in ’n nuwe Afrikaanse rolprent te sien.

Leandie du Randt Bosch (29) speel die rol van Alecia in Vuilwasgoed: Ek is bly jy was hier, wat op 8 Desember in teaters begin draai.

In dié fliek besluit Wim en Kevin, wat ’n wassery bedryf, om in hul klante se klere na ’n partytjie te gaan. Hulle ontdek ’n afgekapte vinger in een van die sakke en daarna begin die poppe dans.

Leandie vertolk die rol van Alecia, ’n meisie op wie Wim ’n ogie het.

Sy woon deesdae saam met haar man Bouwer Bosch in Randburg en hou haar ook met haar eie klerereeks, genaamd Skoonma, en motiveringspraatjies besig.

Nadat sy in 2006 matriek geskryf het, het dié pastoriemeisie van die NG Gemeente Hoogland haar B.Com in bedryfsielkunde Cum Laude by die Universiteit van Johannesburg verwerf. Sy het haar honneursgraad in bedryfsielkunde in 2010 voltooi en is vanaf 2012 ’n geregistreerde psigometris.

En waar kom die belangstelling in toneelspel vandaan?

“Ek is daarmee gebore en het in graad nege aan Engelse toneel begin deelneem.”

Sy is bekend vir haar vertolking van Ivanka Gouws in die kykNET-sepie Binnelanders, Mieke in die reeks Getroud met Rugby en as Lea in die dramas Vlug na Egipte en Terug na Egipte.

Leandie kan ook in verskeie Afrikaanse flieks soos Semi-Soet, Klein Karoo, Die Windpomp, Mooirivier, Strikdas, Hollywood in my Huis en Deon Meyer se aksiefliek Jagveld gesien word.

Sy is in 2014 as naaswenner in die realiteitsprogram Strictly Come Dancing (seisoen sewe) saam met haar dansmaat Brandon Eilers le Riche aangewys.

Sy het ook haar eerste selfhelpboek in 2014 gepubliseer en dit het meer as 11 000 kopieë verkoop.

Leandie spog met Huisgenoot se Tempo-toekennings vir beste aktrise in drama in 2015 vir Vlug Na Egipte en vir haar rol in Binnelanders in 2016. Sy is ook as Glamour Woman of The Year Film Category 2017 aangewys.

En wat beplan sy vir die nabye toekoms?

“Baie dinge, iets van alles. Ek is ’n entrepreneur, so ek het baie plannetjies ‘up my sleeve’,” het sy gesê.

LEANDIE du Randt Bosch (29), ‘n oud-Jeuglander, is nou te sien in die nuwe Afrikaanse rolprent Vuilwasgoed: Ek is bly jy was hier.

Hoe sien sy die Afrikaanse filmbedryf?

“Groeiend en besig om net beter te raak. Hoe meer films uitkom, hoe beter raak meeste van die films se standaard, wat ‘exciting’ is.”

Daarom glo sy daar is ’n toekoms vir Afrikaanse akteurs.

“Al hoe meer films en TV-produksies word vervaardig en kykNET en Via skep ruimte vir vervaardigers om meer en nuwe programme vir televisie te maak.

“Ons is ook dankbaar vir die DTI en kykNET wat help om ’n deel van ons films te finansier en sodoende werk vir akteurs en vervaardigers te skep.”

Oor rolmodelle het Leandie nie veel te sê nie.

“Ek het klomp mense na wie ek opkyk in verskillende areas van my lewe. Op die ou end streef ek daarna om die beste ‘version’ van myself te wees eerder as om soos iemand anders te probeer wees.”

En as daar tyd oor is in haar besige dag, eet sy graag pizza, sushi, slaai, kyk “series” en gaan mark toe.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button