Laerskool Kruinsig word deur Meerkat Maantuig akteurs besoek
Die film vertel die verhaal van Gideonette de la Rey, ’n vreesbevange 13-jarige meisie wat glo aan haar familie se generasie-vloek.
Akteurs in die nuwe film, Meerkat Maantuig, het Laerskool Kruinsig op 20 Februarie besoek.
Die film, wat op 16 Maart landswyd in Suid-Afrika vrygestel word, is reeds aanvaar om by agt internasionale filmfeeste te wys.
Die film se skrywer en regisseur, Hanneke Schutte, het die jeugnovella Blinde Sambok deur die Suid-Afrikaanse skrywer Riana Scheepers as uitgangspunt gebruik en dit omskep in ’n kinematiese verhaal wat in die woude van Magoebaskloof afspeel.
Die film vertel die verhaal van Gideonette de la Rey, ’n vreesbevange 13-jarige meisie wat glo aan haar familie se generasie-vloek en daarom is sy oortuig daarvan dat sy die volgende persoon gaan wees om ’n voortydige dood te sterf.
Bang en desperaat kan sy nie van hierdie storie ontsnap wat haar werklikheid definieer nie. Uiteindelik kan sy haar vrese slegs oorkom deur hulle in die gesig te staar.
Die eerste vertoning van Meerkat Maantuig het plaasgevind by die jaarlike Silwerskermfees in Kampsbaai in 2017 waar dit vir beste kinematografie, beste produksieontwerp en beste regisseur genomineer is.
Kinematograaf Willie Nel het die toekenning vir beste kinematografie ontvang.
In November 2017 het Meerkat Maantuig sy Noord-Amerikaanse première by die gesaghebbende Austin Film Festival in Texas gehad. Schutte het die fees bygewoon en was deur die positiewe reaksie oorweldig.
Meerkat Maantuig is ook as die nommer een film op die Amerikaanse filmkritikus Jesse Knight se lys van Top 10 Onuitgereikte Films in die VS gelys.
Die film word deur Ster-Kinekor Entertainment versprei.

