EntertainmentLifestyle

Pret vir oud en jonk saam met Lollos

Dié geliefde karakter het reeds 'n SAMA en Tempo toekening agter sy naam.

Lollos, die geliefde blou-oor karakter, vier vanjaar sy tiende verjaarsdag.

Gelukkig vir sy aanhangers is oud en jonk uitgenooi na die Lollos en Lettie – 10 Jaar Basaar-makietie.

Lollos, saam met sy beste maat Lettie, sal op 14 April om 10vm ’n vertoning hou by die NG Kerk Kempton-Kruin in Fiskaalstraat. Die vertoning is gemik op een tot 10-jariges.

Lollos, wat vinnig in die harte van kinders regoor Suid-Afrika gekruip het, is lief daarvoor om te sing en dans. Terselfdertyd leer hy hulle ook meer oor die alfabet, syfers, fiksheid, gesondheid en vele meer. Volgens Joleen Coetzee van die Kindervermaakspan is dit juis die vertoning se hele uitgangspunt.

“Die vertonings is uniek deurdat terwyl hulle lekker saambeweeg en fiks word, hulle ook iets leer.”

Lollos verstaan van fiks wees, want in sy 10 jaar van bestaan het hy gewoeker. Hy het reeds nege CD’s en DVD’s uitgereik, waarvan al nege platinumstatus bereik het. Op sy rak spog ook ’n SAMA-toekenning vir beste kinderalbum en ’n Tempo-toekenning vir die topverkoper DVD in 2015.

Van Lollos se gunstelingkunstenaars om saam mee op te tree was onder andere Emo Adams, Bobby van Jaarsveld, Robbie Wessels, Heinz Winckler en Jakkie Louw.

Maatjies vir wie dit na ’n lekker optrede klink, kan gerus vir mamma of pappa vra om navrae vir kaartjies te doen by admin@kindervermaak.co.za / 082 317 3101/082 410 7682. Slegs 400 kaartjies sal beskikbaar wees.

Lollos het aan Express gesê dat hy vreeslik uitsien om al die maatjies in Kempton Park-land te ontmoet.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button