EntertainmentLifestyle

KYK: Leandie word polisievrou in nuwe komedie

Sy gesels met Express oor haar nuwe fliek, wat sy régtig van die Afrikaanse-filmindustrie dink, en wat haar gunsteling aspek van Kempton Park is.

Op die skoolbanke van Hoërskool Jeugland het ’n blondekop, blou-oog meisie gedroom om eendag in die kollig te wees.Vandag is dié voormalige hoofmeisie ’n akteur, gepubliseerde skrywer, ’n geregistreerde psigometris en entrepreneur.

Leandie du Randt Bosch (29) was immers nog nooit een vir stilstaan nie. Op skool was atletiek, ballet, hokkie, koor, netbal, revue en toneel maar net ’n paar van die aktiwiteite waaraan sy deelgeneem het.

Onlangs was sy op die stel van die Afrikaanse aksiekomedie Thys & Trix te sien. Hierin vertolk sy die hoofrol saam met haar man Bouwer. En néé, die twee speel nie verliefdes nie. Dít, sê Leandie, is te voorspelbaar.

Die twee is broer en suster wat nie té gek oor mekaar is nie. Saam moet die onbeholpe polisielede kop bymekaar sit en maak of hulle getroud is om ’n misdaadsindikaat te stop.

“Dit was weird om te moet maak of ek Bouwer nie wil soen of naby hom wil wees nie,” vertel Leandie. “Dit was ook erg om soms lelike goed vir hom te sê. Maar dit is ons werk.”

Volgens haar was dit ’n voorreg om elke dag saam met manlief by die werk deur te bring. “Ons het maar net gesorg dat ons die sussie- en-boetie-rol nie saamvat huis toe nie.”

Hierdie sibling-storielyn is geïnspireer deur Leandie se pa. Hy en sy pasgetroude bruid was jare gelede op pad na hul wittebrood toe ’n polisieman hulle voorkeer. Dié het gesien dat die paartjie se kar vol trougeskenke was en hulle weer laat ry.

“Hoe maklik sou dit nie wees om iets in die geskenkpakkies te smokkel en voor te gee asof jy pasgetroud is nie,” het pa Neels, ‘n predikant, gespot.

En só is die idee vir die fliek gebore. Vir Leandie voel dit onwerklik.

“Dit voel of jy ’n stuk van jou vir die wolwe gooi, maar ek is opgewonde om te sien hoe mense gaan reageer.”

Hierdie fliek is een van die sowat 12 Afrikaanse films waarin Leandie al sedert 2010 gespeel het. Dit is duidelik dat sy positief is oor dié industrie.

“Solank kykers aanhou om Afrikaanse films te ondersteun, kan ons strewe na beter.” Dít, sê sy, is juis wat gebeur.

“Dankie aan elkeen wat vir ons werk skep. Julle stel ons in staat om ons droom te lewe.”

Haar groot droom is om eendag saam met haar rolmodel Anna-Mart van der Merwe te werk.

“Ek is nog nie naby waar sy is nie, a girl can only dream.”

Vir dié wat droom om soos Leandie te wees, sê sy: “Begin nou al met jou 10 000 ure – dit is hoe lank dit vat om professioneel te wees in iets.”

Sy het ook raad vir die Graad Agts van haar almamater.

“Gebruik nou al die geleenthede wat aan jou gegee word, maar moet nie jou kindweesjare in die huis as vanselfsprekend aanvaar nie – dit is ’n voorreg.”

En die vraag op almal se lippe – wat is haar gunsteling aspek van Kempton Park? Haar pa, natuurlik.

Thys & Trix het verlede week in teaters begin draai.

 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button