Geniet ’n kuiersessie saam met Pieter Smith by Kairosteater
Die begunstigde vir hierdie derde konsert in 2018 is Tutela Gesinsorg.
Die gewilde Pieter Smith kuier op 15 Augustus by die Kairosteater in Van Riebeeck Park.
Dit is ’n vertoning wat elkeen moet sien. Pieter se vertonings is vars, gelaai met energie en bied ’n wye verskeidenheid. Hy tree op by byna elke groot kunstefees in die land en sy getroue aanhangers van meer as 15 jaar mis nie sommer sy vertonings wanneer hy in hul omgewing is nie.
Dit beloof om ’n kuiersessie gemeng met nostalgie en uitstekende vermaak te wees. Daar is niemand soos Pieter Smith wat ’n gehoor kan laat lag en saamsing nie.
Die teater is in sy sesde bestaansjaar en hou konserte ten bate van gemeenskapsorganisasies in Kempton Park. ’n Bedrag van R433 331 is tot en met einde 2017 uitgedeel.
Die begunstigde vir hierdie derde konsert in 2018 is Tutela Gesinsorg, ’n maatskaplike diensinstansie wat Kempton park bedien met ’n verskeidenheid van welsynsprogramme.
Kaartjies kos R150 (volwassenes) en R100 (skoliere) onder by die tafels en R120 (volwassenes) en R100 (skoliere) op die galery.
Teatergangers kan hul eie kosmandjies vir die geleentheid pak. Koffie, tee en sjerrie is gratis beskikbaar.
Die teater is geleë op die perseel van die NG Gemeente Kempton Hoogland in De Wiekusweg. Die konsert begin om 7nm vir 7.30nm.
Skakel Annatjie Krige by 082 454 3520 vir besprekings.