EntertainmentLifestyle

KYK: Kempton-talent Ivan Botha nou skrywer, akteur en regisseur

Kempton Park se Dannweg-talent het met Kempton Express gesels oor sy nuwe projek, hoekom daar so baie bekendes in die Oos-Rand is, en waarheen hy mede-akteur en verloofde Donnalee Roberts neem wanneer hulle kom kuier.

7de Laan-kykers ken hom as Pieter van Heerden, ’n donker siel wat uiteindelik familie en liefde vind. Vir aanhangers van die tong-in-die kies film Bakgat! is hy weer die bleeksiel Wimpie Koekemoer.

Hier in Kempton Park is hy eenvoudig Ivan Botha, die blondekop blou-oog seun wat op ’n plot in Dannweg grootgeword het.

“Vliegtuie het kort-kort bo-oor ons huis gevlieg en die vensters het gebewe,” onthou hy met ’n laggie. “Kempton is wonderlik, dit het nog daai gemeenskap-gevoel.”

Hierdie dorp was egter nie groot genoeg vir die akteur en skrywer se vele talente nie. Hy het sy vlerke gesprei na die kleinkassie en grootskerm, en was al te sien in Pad na jou Hart, Getroud met Rugby, Verraaiers en nog vele meer.

Om dit te bereik het hy drama na skool studeer.

“Ek het vroeg besef om ’n lewe in die bedryf te maak gaan harde werk wees.” Daarom het hy besluit om eendag self werk te skep deur stories te skryf, te verfilm en daarin te speel. Die res is geskiedenis.

Ivan is nie die enigste beroemde wat in die Oos-Rand gekweek is nie. Charlize Theron, Leandie du Randt Bosch, die lys gaan aan. Wat is hulle geheim?

Hy lag.

“Dalk is dit per toeval. Die geheim van sukses is harde werk,” is sy advies.

Hierdie hardwerkende talent het wel nie van Kempton Park vergeet nie. Sy ouers woon nog hier en wanneer hy kom kuier, herken inwoners hom gereeld.

“Ons waardeer altyd as iemand kom hallo sê en oor ons films praat. Dit is tog vir die publiek vir wie ons stories vertel.”

Onlangs het hy sy akteurshoed verruil vir die van regisseur van sy nuutste projek, Stroomop, wat vanaf 9 Augustus op die grootskerm te sien is.

“Dit is gemaak vir die grootskerm,” sê hy oor die avontuurfilm wat op die Oranjerivier naby Onseepkans in die Noord-Kaap afspeel. “Kykers gaan op die grootste avontuur van die jaar gaan.”

Vir Ivan was die avontuur van hierdie projek agter die skerms.

’n Man met ’n visie. Skrywer, akteur en nou ook regisseur Ivan Botha sê om agter die skerms van ’n film te werk was ’n wonderlike ervaring. Hy het van Graad Een tot Graad Agt in Kempton Park gewoon en kom kuier nog gereeld vir sy ouers wat steeds hier woon. Foto verskaf.

“Om regisseur te wees was ’n droom wat waar geword het. Elke dag was ’n leerskool en ek het elke oomblik geniet.”

Oor die volgende droom wat hy wil bereik kan Ivan nie te veel verklap nie. “Ons het so paar planne,” skerm hy.

Hy het wel raad vir jong Kempton Parkers wat graag in sy voetspore wil volg: “Daar bestaan nie so iets soos ’n droom wat te groot is nie. Dit hang van jou af hoe hard jy bereid is om te werk om daardie droom waar te laat word.”

Vyf vinnige vrae aan Ivan:

1. Gunsteling-aspek van Kempton Park? My familie.

2. Jy wil verloofde Donnalee uitneem op ’n date in Kempton Park. Waarheen gaan julle? Mmm, my ouers se huis, my ma se kos.

3. Wat doen jy vir pret? Spandeer tyd saam met my dogtertjie.

4. Enige versteekte talente? Ek wens.

5. Iemand wat ’n impak op jou lewe gemaak het is … my ma, dogtertjie en Donnalee.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button