Kerk hou kosfees met disse vanoor die wêreld
Om die dag op te kikker, is daar ook ’n vlooimark.
Die NG Gemeente Kempton Park-Noord bied op 5 Oktober ’n kosfees, met geregte van verskeie lande, aan.
Die verrigtinge begin om 9vm by die gemeentekompleks in Highveldweg 99.
Die weste word deur hamburgers en “hot dogs” verteenwoordig, tipies in die Amerikaanse tradisie, met lekker spiraalaartappels.
Uit die ooste verwelkom hulle China met heerlike soetsuur-geregte en “bow ties” op jou keuse van rys of noedels. Ook uit die ooste sal Indië verteenwoordig word met samoesas en heerlike biryani, beide warm en koud.
Europa moet ongelukkig verdeel word – hier in die Brexit-era. Uit Nederland gaan daar beide soet kaneel en nagereg pannekoeke beskikbaar wees met room en karamel.
Om die Engelse nie te alleen te laat voel nie, is daar ’n teetuin waar tee en ander lekkernye soos skons met konfyt en room, koeksisters en ander gebak beskikbaar sal wees.
Terwyl jy rustig kuier, kan jy ook na Allen Park se koor luister wat van tyd tot tyd tradisionele liedjies gaan sing.
Die Suid-Afrikaanse tafel sal gelaai wees met vetkoek met soet en sout vulsels en ’n vleistafel met heerlike lamsnitte en tuisgemaakte boerewors. Koeksisters, melktert en ander gebak soos ’n boerbrood is ook op die spyskaart, asook tradisionele kerrie-afval. Selfs ’n bietjie vars groente gaan kleur gee.
Om die dag op te kikker, is daar ook ’n vlooimark. Baie bruikbare huishoudelike items en goetertjies sal gekoop kan word.
