InternationalSport

Grote in SA-netbal tree uit (maar nie heeltemal nie)

‘n Gebore en getoë onderwyser van Duiwelskloof wat diep spore in Suid-Afrikaanse skolenetbal getrap het, het haar “tweede beroep” onlangs vaarwel toegeroep.

Sonet van Rensburg, ‘n Klofies-onderwyser wat die afgelope dertig jaar amper elke vakansie haar tyd en energie aan netbal bestee het, het uit die nasionale strukture van die sport getree. Sy vertel dat haar passie vir netbal as hoërskoolkind by Merensky begin het. “Ek het vanaf my std. 6 tot std. 9 jaar in die skool se A-span gespeel en was ook elke jaar kaptein.

“Deur al vyf jare is ek deur die beste afrigter, mev. Debbie Bester, afgerig,” vertel Sonet. “My passie vir netbal het verseker in die tyd ontstaan en dit is alles te danke aan die wonderlike afrigter wat ek gehad het.” Sonet het na skool onderwys studeer en het in Pretoria begin skool hou. Soos wat van onderwysers verwag is, het sy by sport betrokke geraak. Sy het in 1995 haar Gauteng-skolegradering verwerf en in 1999 haar SASN-skolegradering (Suid-Afrikaanse Skole Netbal).

Van daar af het sy ook as keurder, skeidsregtergradeerder en afrigter betrokke geraak en op Gauteng-skole se bestuur gedien. In 2006 het Sonet en haar man Johann en twee dogters Oos-Kaap toe verhuis waar sy weer eens haarself in die wêreld van skolenetbal begeef het. Toe die gesin in 2010 hulself in die berge van Politsi kom vestig het, het sy haar kundigheid ingeploeg en weer groot spore in Limpopo – asook Suid-Afrikaanse netbal – getrap.

Lees ook: Mopani netball team best in South Africa

“Ek het van 1999 af letterlik elke moontlike skeidsregterkursus bygewoon. Ek het ook soveel as moontlik wedstryde geskeidsreg. “In Gauteng was daar altyd baie geleenthede gewees om op te tree as buiteskeidsregter vir skole. Ek het ook van 1999 tot 2017 elke jaar by ‘n SA-toernooi gegradeer,” vertel sy. Haar loopbaanhoogtepunte sluit haar Gauteng o.13-span se goue medalje in 2005 tydens die SA-kampioenskap in, haar B+gradering vanaf SASN in 2008, om as skeidsregter gekies te word vir die o.19-finaal by die SA-skolekampioenskap in 2010 en natuurlik die vele oorsese reise waartydens sy skoolspanne vergesel het.

“Dit verg tyd en nogmaals tyd om by netbal se nasionale strukture betrokke te raak,” sê Sonet. “‘n Mens is elke vakansie weg van jou gesin en elke naweek besig met skeidsregting. “Jy spandeer ure op die pad. Dit was nie altyd maklik om na ‘n besige kwartaal en ‘n stokflou liggaam die pad te vat na ‘n toernooi toe nie, maar verseker sal geen geld kan koop wat ek tydens die tyd ervaar het nie … ek het soveel netbalvriende en kennisse oor die land. “Hierdie vriende word soos jou familie oor die jare.”

Lees ook: Meet the boy who plays netball

Vir jong onderwysers wat by die sport betrokke wil raak het sy die volgende raad. “As dit jou passie is, moet jy voluit leef vir dit. Niks val sommer in jou skoot nie. Dit is jare se harde werk en baie ure van jou geliefdes af weg, maar alles is op die ou end die moeite werd.” Maar vir nou gaan sy eers ouma-wees vir haar eerste kleinkind. “Ek sal seker nooit netbal vir ewig kan vaarwel roep nie. Dit sal altyd deel wees van my. “Ek het uitgetree omdat ek nou eerder vakansies vir my kleindogter in Umhlanga wil gaan kuier,” sê Sonet. “Maar ek sal egter nog steeds betrokke bly by Limpopo-netbal. “My passie is om skeidsregters te ontwikkel en solank ek dit nog kan doen, sal ek daarmee aangaan,” sluit sy af.

Related Articles

Back to top button