Editor's choiceEntertainmentLifestyleNewsSchools

Dana Snyman kuier by oud Vossie, Trevor Nyakane se familie op Gravelotte

Die bekende skrywer, Dana Snyman het saam met die oud Vossie, Trevor Nyakane en Springbok-stut, se familie na die onlangse Samoa wedstryd gekyk. Hy deel graag sy ervaring goedgunstelik met Letaba Herald.

(Ek is tans op ‘n soort rugbyreis deur die land – ‘n reis wat alles met rugby te doen het, maar ook niks met rugby te doen het nie. Ek het saam met Trevor Nyakane, die Springbok-stut, se familie na die wedstryd gekyk. Hierdie is ‘n paar aantekeninge wat ek vroegoggend gemaak het. Ek wil dit nog verwerk tot iets meer betekenisvol en minder sentimenteel.)

NTANDO

No problem, sê Lerato agter die toonbank in die Gravelotte-kafee. Sy sal Trevor se pa se nommer vir my kry.

Sy tel haar selfoon, ’n ou Nokia, langs die kasregister op en bel iemand. ’n Lang gesprek volg. Al woord wat ek verstaan is Nyakane. Daarna bel sy nog ’n nommer, en nog een.

Sy skryf die nommer op ’n servet neer en gee dit vir my.

You phone him now, sê sy. We call him Uncle Norman.

Dis net ná twee die middag, en die waaier met die wye, wit arms teen die kafee se dak veg vergeefs teen die hitte. Dis 30 grade plus. Skuins oorkant die straat is ’n slaghuis en ’n drankwinkel. Gravelotte se sakekern.

Uncle Norman antwoord in ’n sagte stem. Ek verduidelik vir hom wie ek is en dat ek ’n rugbyboek skryf. Sal hy omgee as ek vanmiddag se wedstryd saam met hom kom kyk?
Please, sê hy. Come. I’ll show you the real truth.

Kan ek vleis saambring, dan braai ons? vra ek. En sal hy iets drink?

Yes, yes, sê hy. I drink Amstel.

Trevor is hier op Gravelotte, tussen Letsitele en Phalaborwa, gebore. Hy was ook in die Laerskool Gravelotte.

Ek ry soos Uncle Norman verduidelik het: links hier, regs daar. Later is ek in ’n klein township naby ’n myn.

Uncle Norman staan in ’n Springbok-trui voor ’n huisie met ’n kaal voortuin. Agterop die trui is ’n nommer 17. Trevor het sy eerste toetswedstyd in daardie trui gespeel.

'n Foto van Trevor se oorlede ma en 'n Springbok vlaggie wat hy gekry het toe hy sy eerste debuut wedstryd gespeel het.
‘n Foto van Trevor se oorlede ma en ‘n Springbok vlaggie wat hy gekry het toe hy sy eerste debuut wedstryd gespeel het.

Langs die voordeur is ’n hen-en-kuikens in ’n asbesbak. Nee, nee, beduie Uncle Norman toe ek voor die deur wil parkeer. Ek moet na die agterkant van die huisie ry. Hy het spesiaal sy ou Hillux-bakkie onder die ietwat verslete afdak uitgetrek sodat ek daar kan stilhou.

Die huis het vier vertrekke. Teen die muur hang foto van Trevor in sy Springbok-trui, geraam in een van hierdie goedkoop rame wat jy by ’n China Shop koop. Op ‘n ander foto frons biskop Lekganjane, leier van die Zion Christian Church.

’n Groot vrou kom uit die kombuisie. Sy kan nie Engels of Afrikaans praat nie. Dis tannie Agnes, Trevor se stiefma. Trevor se ma is oorlede toe hy nog op skool was.

Uncle Norman gaan sit op die bank en vertel hoe ds. Jan Truter, ’n Hervormde predikant van Letsitele, vir Trevor sien rugby speel het toe Trevor in standerd 2 was. Later is Trevor met ds. Jan se hulp na die Hoërskool Ben Vorster op Tzaneen toe.

Vanmiddag speel Trevor doer ver anderkant die water vir die Springbokke.

You should see his watch, sê Uncle Norman. I think it cost seven thousand.

Bok Vreugde: Trevor se familie voor die bokke se wedstryd teen Samoa.
Bok Vreugde: Trevor se familie voor die bokke se wedstryd teen Samoa.

Uncle Norman was ’n hekwag en ’n kantoorassistent by die myn, maar is nou afgetree. Ons gaan nie die rugby hier kyk nie, beduie hy. Ons gaan by Trevor se susters, Abigail en Rhulani, na die wedstryd kyk. Op die big screen.

Ons skommel deur skote en oor klippe, deur Afrika, deur die township, in die ou Hilux, tot by die mynhuis waarin Abigail en Rhulani woon. Abigail en Rhulani het ook Springbok-truie aan, elkeen met ’n nommer 17 op die rug. Hul hondjie Chico begin dadelik vreeslik vir my blaf. Blaf, blaf, blaf, terwyl almal hom probeer silmaak, en verlee verskoning oor die geblaf vra.

Ek wil nie sulke dinge dink nie, maar ek kan myself nie help om te wonder nie: Blaf Chico dalk so vir my omdat hy nie dikwels witmense op hierdie werf sien nie?
In die kombuis is ’n nuwe yskas. In die sitkamer is ’n nuwe grootskerm-TV. In die een slaapkamer staan ’n nuwe oefenfiets. Teen die sitkamermuur, byna soos ’n klein huisaltaar, hang die Springbok-vlaggie wat Trevor twee jaar gelede ná sy eerste toetswedstryd gekry het – onder ’n foto van sy oorlede ma.

Abigail en Rhulani staan op aandag toe die Volkslied speel en sing hard saam.

Dan is dit die afskop, en dan… In die volgende twee ure gebeur ’n klomp dinge – dinge wat ek nog rustig sal moet oordink. Soms is dit moeilik om ’n ervaring wat jou diep geraak het, onder woorde te bring.

'n Trotse gesin gee hul blydskap luidkeels te kenne wanneer hul eie Springbok sy verskyning op die veld maak.
‘n Trotse gesin gee hul blydskap luidkeels te kenne wanneer hul eie Springbok sy verskyning op die veld maak.

Dis nog net beelde en stemme in my kop. There is only one Christmas in a year, sê Rhulani. Last week was Japan’s Christmas. No gifts today. The Bokke must win.

Uncle Norman gaan haal vir ons elkeen nog ’n Amstel. Pla die muskiete jou nie? vra hy vir my. In Afrikaans. Die eerste Afrikaans wat hy die hele middag praat. Hy en die ander praat Sjangaan met mekaar – maar kort-kort hoor ek ’n speler se naam: Habana, Matfield, Pollard, Le Roux – name wat soos katoë skitter op die donker, onbekende pad waarop ek is, sê ek vir myself. Strauss, Pietersen…

Halftyd gaan steek ek en Abigail die vuur aan in die klein braaier agter-in die jaart. Chico storm weer op my af en begin blaf, totdat Uncle Norman hom optel en in ’n kamer gaan toemaak. Toe is dit die tweede helfte, en toe die 22 ste minuut van die tweede helfte; en toe, skielik, is hy op die skerm, Trevor Nyakane, hulle Trevor, Nommer 17.

Uncle Norman leun oor en sit sy hand vlugtig op my skouer, asof hy wil seker maak ek sien dit. Abigail en Rhulani kom regop en roep: Buti! Buti! Tannie Agnes waai met albei hande vir die skerm, en ek… begin huil.

Fok, fok, fok, sê ek vir myself.

Dis was net twee Amstels, jy is pateties sentimenteel.

Trevor se pa, "Uncle" Norman voor sy huis in Gravelotte.
Trevor se pa, “Uncle” Norman voor sy huis in Gravelotte.

Dis net ’n gewone gesin wat bly is omdat een van hulle vir die Springbokke speel; en tog, terselfdertyd, besef ek party gewone dinge is nie gewoon in hierdie land nie.

Laataand ry ek terug in Tzaneen se rigting, in stilte, onder die sterre deur. My selfoon piep. Dis Uncle Norman. Hy wil net weet of ek veilig ry. Ek hou langs die pad stil en ons gesels ’n rukkie in die donker.

Onthou net, sê hy toe ons amper groet. Trevor se regte naam is Ntando – Ntando wat seëning beteken.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.

Related Articles

Back to top button