Dis nag vir Tzaneen
Tzaneen se straatligte is besig om een vir een buite werking te raak en die munisipaliteit kom nie daarby uit om dit te herstel nie.
Volgens Marius Jacobs, van Northern Sekuriteit, belemmer dit hul pogings om inwoners van die dorp veilig te hou. Juis daarom het hulle die afgelope week spesifiek gaan rondry in ‘n poging om uit te vind presies hoeveel strate in die donker gehul is. Northern het die strate wat probleme het getel en ‘n lys aan die Herald gestuur.
Die resultate was skokkend om die minste te sĂȘ. 58 verskillende strate van Tzaneen is volgens Northern Sekuriteit snags in donkerte gehul. Volgens Neville Ndlala, woordvoerder van die Groter Tzaneen Munisipaliteit,is dit nie heeltemal akkuraat nie.
Die tegniese afdeling herstel straatligte so vinnig as wat hulle kan wat beteken die lys het hier en daar ‘n lig op wat reeds herstel is. Ndlala het die Herald Maandagoggend geskakel en aangebied dat die munisipale tegniese span die Herald gedurende die aand deur die dorp vergesel.
Na slegs ‘n halfuur in die strate en buurte van Tzaneen was dit egter duidelik dat daar wel ‘n groot krissis op pad is. Die Herald en die munisipaliteit se tegniese manne het meer as 70 straatligte getel wat vir ‘n verskeidenheid van redes tans nie werk nie.
By sommige ligte is daar onderdele (energie besparende gloeilampe) wat reeds bestel en goedgekeur is waarvoor daar gewag word. By ander is daar meer tegniese kwessies waarvoor die departement eenvoudig nie die mannekrag het om dit te herstel nie. Soos Timothy Nkuna, stedelike dorpsbeplanner elektries, tereg opmerk, breek die ligte vinniger as wat hul dit kan herstel.
En dit bring ons by die wortel van die kwaad. Waar die spanne op die grond in die verlede bestaan het uit twee trokkies met 10 arbeiders en ‘n opsigter elk, is daar nou net twee arbeiders en ‘n opsigter wat die hele Tzaneen se straatligte instand moet hou en herstel.
Hou ook ingedagte dat ongeveer 700 nuwe energiebesparende gloeilampe op pad is en dieselfde mense moet voorbereidings tref vir die insit van hierdie lampe, asook die plant van by die 300 lamppale vir ligte wat oor die loop van tyd uitgehaal is, weens skade wat dit opgedoen het.
Die afgelope naweek het ‘n donderstorm twee substasies se transformators uitgeslaan. Riverside wat Tagannashoek en omliggende voer asook Manorvlei wat Doornhoek en gedeeltes van Lushof noord en meer voer, het gebrand.
Inwoners van die betrokke areas was van Sondag tot vroeg Maandagaand kragloos. Tydens kragonderbrekings het inwoners gekla oor die krag noodlyn wat meestal onbeantwoord bly.
Herald het Nkuna en Jaco Strydom, superintendent stedelike elektries, na die beheerkamer vergesel waar January Ngobeni die man is wat die telefone beman. Gedurende die halfuur wat die Herald in die beheerkamer was, het die fone onophoudelik gelui. Soos op die foto gesien kan word is daar vier landlyne sowel as ‘n radio wat Ngobeni moet beantwoord. Die radioverbinding is met tegniese mense in die veld en geniet dus voorkeur bo die noodnommer. Weer eens is ‘n gebrek aan arbeid die probleem. Een mens kan onmoontlik nie al die fone sowel as die radio beman nie.
Uiteindelik is dit duidelik dat daar ‘n ernstige gebrek aan getalle is wanneer dit by die Elektriese Departement van die Groter Tzaneen Munisipaliteit kom.
Die manne op die grond doen hul absolute bes, maar met twee arbeiders wat straatligte herstel en een man wat op die hele dorp se navrae en noodkrete moet reageer sal dit maar ‘n opdraende stryd bly.