OPVOLG: Departement laat die bal val – vraestelle nie afgelewer nie
Verskeie skole in Limpopo se eksamen vraestelle is nie gister afgelewer nie. Talle woedende ouers het gister die Herald se kantore geskakel omdat hul kinders se eksamen op die nippertjie sonder verduideliking uitgestel is.

Die Herald kon egter nie daarin slaag om kommentaar by enige van die rolspelers te kry nie en moes uiteindelik staatmaak op ‘n SMS boodskap wat plaaslike Hoërskool, Ben Vorster, aan ouers van dié skool gestuur het.
Luidens die boodskappe, was die Engelse vraestel nie afgelewer nie en moes leerders die middag, gewapen met hul eksamen roosters, by een van die skool se koshuise aanmeld, sodat ‘n nuwe datum vir hierdie vraestel vasgemaak kon word.
Verskeie Ben Vorster ouers en vriende het klaarblyklik gedink die Herald beskuldig Ben Vorster van ongerymdhede wat die skryf van eksamens betref.
Dit is glad nie die waarheid nie en was ook nie die bedoeling gewees nie.
Aangesien geen rolspelers kommentaar wou lewer nie, moes die Herald staatmaak op die enigste bron tot ons beskikking, die SMS boodskap aan ouers.
Vandag kan die Herald egter berig dat die skuld vir hierdie ongeskryfde vraestelle vierkantig voor die voete van die Departement van Onderwys gelê kan word.
Volgens bronne in die Departement, was dit nie net die Graad 11 Engels wat geraak is nie. Sommige ander Graad 11 vakke, sowel as Graad 10 vakke is ook nie geskryf nie.
Die rede vir hierdie probleem blyk finansiële wortels te hê.
Die Departement het na bewering nie genoeg geld gehad om elke leerder van ‘n vraestel te voorsien nie en het die skole slegs een of twee vraestelle gegee en verwag die skole moes self afdrukke maak op hul eie onkoste. Sommige van die armer skole kon dit egter nie doen nie en daarom is die besluit gemaak om die vraestelle eerder uit te stel.
Volgens die regering se aanlyn nuus agentskap, SAnews, het die Departement se woordvoerder, Naledzani Rasila die volgende te sê gehad: ” Die besluit om die vraestelle van sommige vakke uit te stel is deur die Departement geneem om die werklading van leerders ligter te maak.”
Hoe hierdie egter strook met bewerings van geldelike tekorte, weet nugter alleen.
Die nasionale onderwysers unie, SADTU, het gesê die armer skole se hoofde moes rondskarrel met vraestelle om hulp te soek met die druk van meer.
Hierdie deurmekaarspul het, volgens die unie, die integriteit van die vraestelle bedreig en daarom het hulle druk op die Departement geplaas, om eerder die skryf daarvan uit te stel.
Volgens Herald se bronne is gister se Engels vraestel na 6 November toe geskuif.
In ligter luim, soos ‘n naamlose bron van die Herald gister gereken het:”Hoe los mens die probleme van alkoholisme en die swak onderwys departement op? Jy laat die Onderwys Departement die bier aflewer en SAB die vraestelle.”
Hou gerus die Herald se webwerf dop vir meer oor hierdie storie soos meer inligting bekend raak.



