Editor's choiceLocal newsNews

Modjadjiskloof se weldoener ondervra

'n Bekende inwoner van Modjadjiskloof is verlede week deur die SAPD ondervra in verband met 'n klagte van opsetlike saakbeskadiging wat die Munisipaliteit aanhangig gemaak het.

Mike van der Spuy, eienaar van Mike’s Electrical en ook een van die inwoners se groot helde elke keer wanneer die dorp se krag toevoer afgesny word, moes inderhaas homself by die plaaslike SAPD gaan verduidelik, nadat iemand ‘n saak van opsetlike saakbeskadiging teen hom oopgemaak het.

Die eerste teken van moeilikheid was toe daar speurders by Van der Spuy se werkswinkel opgedaag het om hom te ondervra. Een van die speurders het hom aangeraai om na die plaaslike polisiestasie toe te gaan om die aantygings teen hom tot ruste te probeer lĂȘ.

Hy en sy vrou het hulle daarheen gehaas waar hulle deur lede van die plaaslike SAPD sowel as die assistent hoof van die GLM se Elektriese Departement, Bheki Tshawe en die Munisipale bestuurder, Tsakani Mashaba, gekonfronteer is. Nie een van hulle wou aan Van der Spuy erken wie presies die saak teen hom aanhangig gemaak het nie.

Volgens die SAPD het die aanklag gegaan oor die kraglyn, wat ‘n paar weke gelede tydens die onwettige Munisipale staking beskadig is. Van der Spuy en sy seun Dylan is reeds in die dorp bekend daarvoor dat hulle maklik inspring om elektriese probleme uit te sorteer sonder enige vergoeding wanneer die nood begin druk. Hierdie spesifieke voorval was ook geen uitsondering nie en die Van der Spuys het, saam met verskeie ander besighede en inwoners van die dorp (soos voorheen deur die Herald berig) ingespring om probleme self te probeer oplos na die dorp vir bykans drie dae sonder krag gesit het.

Stakende werkers het daarvan te hore gekom en hulle probeer intimideer. Minstens een baksteen is tydens die voorval gegooi.

“Ek verstaan steeds nie mooi waaroor die hele bohaai gegaan het nie. Ons dink dit was die lyn wat ons reg gemaak het waarvan die SAPD praat,” het Van der Spuy aan die Herald gesĂȘ. Hy het herhaaldelik aan die SAPD asook die twee lede van die GLM se bestuur (wat teenwoordig was) gevra wie die saak teen hom gemaak het. Nie Mashaba, Tshawe of die SAPD kon (of wou) aan hom ‘n antwoord verskaf nie.

Tydens die vergadering het die SAPD Van der Spuy se vrou gedwing om die vertrek te verlaat. Sy het uitgegaan en aan inwoners begin SMS boodskappe stuur. Heelwat Modjadjisklofers het in hul voertuie gespring en na die polisiestasie gery om Van der Spuy te gaan ondersteun. Voorsitter van die Modjadjiskloof Inwoners Vereniging, Michael Rametsi, was onderweg na Polokwane en het op die buitewyke van die stad die hulpkreet ontvang, waarop hy dadelik omgedraai en terug gejaag het Modjadjiskloof toe. Volgens Van der Spuy was dit ook Rametsi se teenwoordigheid en onderhandelinge met die SAPD wat uiteindelik kalmte gebring het.

Intussen het woedende inwoners buite die stasie gewag. Die groot ironie van die hele situasie was die plaaslike SAPD wat Van der Spuy gevra het om die situasie buite hul deure te gaan ontlont.

Die klag is intussen terug getrek maar die SAPD wou steeds nie sĂȘ wie die klaer was nie. Daar is wel twee SMS boodskappe in die Herald se besit wat ‘n interessante storie vertel. Eerstens is daar ‘n boodskap van Bheki Tshawe waarin hy dit duidelik stel dat die saak nie deur die GLM gemaak is nie en ook dat wie dit ook mag aanhangig gemaak het, dit sonder die medewete en/of goedkeuring van die Munisipaliteit gedoen het.

Die tweede boodskap is verkry vanaf ‘n anonieme bron in die SAPD. Volgens hierdie boodskap is die klaer is ‘n hooggeplaaste lid van die GLM.

Volgens die GLM se woordvoerder, Lovers Maenetje, is dit waar dat die GLM ‘n saak van opsetlike saakbeskadiging aanhangig gemaak het maar dit was glad nie teen Van der Spuy nie. Verder is die saak ook glad nie terug getrek nie en die ondersoek duur dus voort. “Mike’s Electrical verdien eerder ‘n kloppie op die skouer vir hulle onbaatsugtige diens aan die gemeenskap om op eie koste die dorp se krag toevoer te herstel,” het Maentje gesĂȘ.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button