TZANEEN: Die vark in Johan se verhaal het te doen met ‘n broodjie in sy oondjie
VIDEO: As daar een varkie is wat jy moet aanskaf...dan is dit een van Johan se varkies!

Met die aanskaf van ‘n varkie broodoond kan jy Johan Coetzee help om sy staal te gaan wys tydens die Nasionale Landbou skou met sy bok wat in George aangebied word later vanjaar.
Coetzee, graad 10 leerder van Hoërskool Merensky het tydens vanjaar ‘n tweedeplek tydens die Plasie Skou ingepalm.
Hy het ook tydens die Bekker Skou tweedeplek verower en tydens vanjaar se Letaba Skou derdeplek in die senior vleisbok afdeling.
Nou is hy volstoom besig om gereed te maak om op nasionalevlak te gaan meeding.
Om die droom te bewaarheid moet hy egter voor einde September R6 000 insamel.
Die klong wat in murg en been leef vir landbou en ook droom om eendag boer te wees, het spreekwoordelik die term ‘n boer maak ‘n plan in realiteit omskep.
Hy sweis nou die varkies en verkoop hulle teen R400 stuk om sodoende fondse in te samel om die skou te gaan bywoon en deel te neem.

Natuurlik met die wens om terug te keer met ‘n roset of twee. Die toekomstige boer het aan LETABA HERALD vertel dat sy pa, Freddy, ‘n ruk gelede so ‘n broodoond varkie uit ‘n gasbottel gemaak het, en dit is waar die idee vlam gevat het.
“My pa het lank terug ‘n varkie gemaak en toe het ons gesit en ‘n broodjie gemaak en toe kry ek die die idee om dit te maak,” vertel hy.
Video: Johan hard besig in die werskwinkel
Die jongman sweis ook maar eers van die begin van die jaar af, en dit blyk duidelik dat hy ook hier oor ‘n besonderse talent beskik.
“Nee ek sweis nog glad nie lank nie, eers van die begin van die jaar af,” vertel hy half skaam.

“Die varkie word aanmekaar getimmer en gesweis uit ou gasbottels, draad en ander hardeware,” vertel hy verder.
En die timmerman het natuurlik raad vir sy voornemende kliente, oor hoe om die varkie in te span op die vuur om daardie perfekte braai-oonbrood oor die kole te bak.

“Jy moet bietjie kole onder die varkie sit en dan baie meer kole bo-op en dan die broodtjie net dophou todat hy gaar is,” is sy raad.
Coetzee het nou nie self ‘n uithaler brood resep wat hy kan deel nie, maar sê: “Koop sommer klaar gemaakte deeg by die naaste supermark.”
Om een so varkie aan mekaar te sweis neem hom so ongeveer ses ure.
Dit neem twee gasbottels om een varkie te maak.
“Dit sorg dat die varkie lugdig is en daar nie openings in is nie,” is aan die Herald verduidelik. Die sweis gogga het hom gebyt toe hy vroeër vanjaar ‘n reënmeer houer, in die vorm van ‘n mannetjie moes sweis.

“Ek het by die skool ‘n reënmeterhouer mannetjie gesweis en toe kry ek die idiee om die varkies te maak.”
Wanneer Johan nie sweis of besig is met skoolwerk nie onderhou hy sy eie groentetuin by hulle huis en hy ry ook graag fiets.
Maar vir eers moet sy uitjies, kruie, spinasie en broccoli hulle oorlaat aan die genade van die grond en natuur en sy fiets se ketting kan later geolie word.
Nadat ‘n pleidooi op sosiale media geplaas is om die besonderse varkies wat hy sweis te bestel sodat hy die geleentheid kan benut om na die Nasionale skou kan gaan, stroom die bestellings in.

Bestel gerus jou varkie. Bak daardie perfekte broodjie op die kole en help so Johan en sy bok om sy skool en Tzaneen trots te gaan verteenwoordig in George.

Indien iemand hom wil ondersteun in sy projek, skakel Annerien Coetzee 082 417 7213.
*Johan verdien ‘n veer in sy hoed. Waar ‘n wil is, is ‘n weg en ‘n boer maak ‘n plan. Sterkte met jou poging en mannemoed. Tzaneen staan bankvas agter jou en die ander van Plasieland wat aan die kompetisie gaan deelneem. Kom terug met ‘blêêêêrende prestasies! RED