Local newsNews

Tzaneen verloor ‘n groot gees

Johan Spies, boer en entrepreneur, het diep spore in die gemeenskap getrap.

‘n Fratsongeluk het een van Tzaneen se grootste boere en entrepreneurs, geëis.

Johan Spies (85) was verlede week met vakansie by die gesogte Pinnacle Point-gholflandgoed in Mosselbaai toe die gholfmotor waarin hulle gery het, die pad verlaat het en in rowwe terrein beland het. Spies se suster, Joan Wepener (91), en sy vrou Cecelia, was saam met hom op die gholfkar.

Die ongeluk het Woensdag 19 Maart om ongeveer 18:00 gebeur. Wepener is kort na aankoms by die hospitaal dood. Spies is Donderdag in die vroeë oggendure dood.

Jannie Lombard, ‘n sakevennoot, sê Spies was ‘n uitstaande entrepreneur. Voordat hy hom in die tagtigerjare in Tzaneen gevestig het, het hy ‘n meterleesonderneming vir munisipaliteite in Gauteng bedryf. Hy was ‘n geoktrooieerde rekenmeester van beroep en in ‘n boek wat Johann Rupert oor entrepreneurskap geskryf het, is Spies se onderneming as voorbeeld uitgelig.

Hy het in Politsi gewoon en het met avokado’s, lietsjies, piesangs en makadamias geboer. In die laaste 15 jaar het die boerdery baie uitgebrei.
“Oom Johan was miskien 85 jaar oud, maar hy kon ons almal onder die tafel in boer,” sê Lombard.

Spies is in Reitz gebore en albei sy ouers is dood toe hy nog baie klein was, hy het as weeskind grootgeword.

Spies laat sy vrou Cecilia en dogter, Ida van Rooyen, en kleinkinders na. ‘n Gedenkdiens sal  later gehou word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button