Afrupro Pakkers maak sy deure vir produsente oop
“Besigheid gaan voort, nie Afrupro of sy filiale gaan likwideer nie.”
So het Zander Ernst van Allesbeste en direkteur van Afrupro (Edms) Bpk gesê nadat hy genader is oor gerugte dat die maatskappy gelikwideer gaan word.
Afrupro is ‘n avokado-maatskappy wat filiale besit waaronder twee hoofmaatskappye, Afrupro Marketing en Afrupro Pakkers.
Allesbeste besit tans ongeveer 61% aandeel van Afrupro.
“Daar is nie meer genoegsame produsente om die bemarkingsarm lewensvatbaar te hou nie en daarom sal daar geen vrugte vanuit Afrupro Marketing in 2021 uitgevoer word nie.
Alle besigheid in die maatskappy word volledig afgehandel en alle betalings vir produsente se lietsjies wat deur Afrupro Marketing uitgevoer is, sal ook afgehandel word en volledig uitbetaal word soos normaal.”
Hy sê weens die afname in volume deur die bemarkingsmaatskappy, is daar met die oorblywende personeel van Afrupro Marketing onderhandel vir vrywillige skeidingspakette.
Personeel is opsies gebied en elke personeellid het sy of haar opsie uitgeoefen.
“Die pakhuis sal oudergewoonte in week 7 gereed wees om te pak vir boere. Bestuur in die pakhuis is onveranderd en daar is reeds planne om verder op die dienslewering te verbeter.
“Eerskomende week sal produsente en bemarkers reeds ‘n voorsmaak kry van die verbeterde inligtingstegnologie wat hulle gaan toelaat om in “ware tyd” (real time) hulle lewerings, uitpakke en vooraad te sien.
Hulle sal ook deur middel van besigheidsintelligensietegnologie groter insig oor hul produk en boorde se prestasie kan kry.”
Histories was Afrupro Pakkers ‘n geslote pakhuis wat slegs vir sy sustersmaarskappy Afrupro Marketing vrugte verpak het.
Dit het dus die kompeterendheid benadeel, en boere was dus beperk om slegs vir een spesifieke bemarker te lewer.
Die “hervormde” pakhuis sal nou aan produsente die geleentheid gee om vrylik te kies van watter uitvoerder hulle wil gebruik maak.
leer: Disability centre makes a difference in community
“Die direksie het reeds die pakhuis oop verklaar vir alle uitvoerders, en was ook reeds in kontak met meeste van die bemarkers om hulle bewus te maak van die geleentheid.
Dit gee dus die geleentheid vir produsente, om soos in meeste ander bedrywe deur die loop van die seisoen die opsie uit te oefen om vir verskillende bemarkers te lewer op grond van prestasie.
Dit is ‘n nuutjie vir die avokadobedryf en sal ‘n ongewone nuwe vryheid wees.
Leer: ‘Ware heer’ Kataza is tuis by sy nuwe huis
In bedrywe soos die sitrusbedryf is dit egter ‘n baie meer bekende verskynsel,” het Ernst gesê.
Die oogmerk vir die pakhuis is om soos voorheen die beste diens in die bedryf te lewer teen ‘n kompeterende pakkoste.
Fokus by die pakhuis sal wees om die doeltreffendheid van die pakhuis te optimaliseer.
“Ons is ook opgewonde om te kan aankondig dat die pakhuis ook voortaan ‘n plukdiens sal lewer vir kleiner boere om hulle in staat te stel om hulle oes vinniger af te haal om sodoende voordeel te verkry uit die ideale markgeleenthede, en ook hopelik diefstal te vermy deur vrugte vroeër van die bome af te kry.
“Kleiner produsente wat histories slegs 50-200 plukkiste per dag kon inbring, se volledige oes kan nou in ‘n dag of twee afgehandel word deur een groot plukspan in te stuur.
“Dit sal ook ‘n vervoerdiens insluit en die produsent kan dan die bemarker van sy keuse aandui.
“Sodoende kan die pakhuis ook verseker dat die paklyn minder staan om oor te skakel tussen boere. Hierdeur kan die pakhuis se doeltreffendheid vermoedelik met tussen 10-25% verbeter,” het Ernst gesê.
“Ons nooi graag enige belangegroepe, en veral produsente uit wat nie seker is oor die feite nie, en ongelukkig is oor enige vermoedelike aksies, om met enige van die direkteure van Afrupro kontak te maak sodat die nodige klaring gegee kan word met feitlike stawing.”



